McDonald’s verkoop al sy restaurante in Rusland

Meer as 62 000 het by McDonald’s se 850 restaurante in Rusland gewerk. (Foto: Alexander Nemenov / AFP)

Die kitskosreus McDonald’s het Maandag aangekondig dat hy al sy restaurante in Rusland gaan verkoop.

Talle Westerse ondernemings het reeds uit Rusland onttrek sedert dié land Oekraïne in Februarie ingeval het.

Die Franse motorvervaardiger Renault het terselfdertyd aangekondig dat hy sy Russiese bates aan die regering in Moskou oorhandig het – die eerste groot nasionalisering van die ekonomiese ontknoping.

McDonald’s het in Maart al 850 van sy restaurante in die land gesluit, waar hy glo 62 000 mense in diens gehad het.

“Ná meer as 30 jaar van bedrywighede in die land, het McDonald’s Corporation aangekondig dat hy die Russiese mark sal verlaat. ʼn Proses is reeds begin om McDonald’s se Russiese ondernemings te verkoop.

“Weens die humanitêre krisis en onvoorspelbare bedryfsomgewing wat deur die oorlog in Oekraïne veroorsaak is, het McDonald’s tot die gevolgtrekking gekom dat voortgesette eienaarskap van dié onderneming in Rusland nie meer volhoubaar is nie. Dit is ook nie in ooreenstemming met McDonald’s se waardes nie,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.

McDonald’s beplan glo om al sy restaurante in Rusland aan ʼn plaaslike koper te verkoop. McDonald’s se naam, logo, handelsmerk en spyskaart mag ná die onderhandeling egter nie meer gebruik word nie.

In Rusland bedryf McDonald’s meer as 80% van die restaurante wat sy naam dra regstreeks. Die land is vir 9% van die maatskappy se inkomste verantwoordelik en 3% van sy algehele bedryfswins.

Chris Kempczinski, McDonalds’s se uitvoerende hoof, sê dit was ʼn baie moeilike besluit.

“Ons is besonder trots op die 62 000 werknemers wat in ons restaurante werk, saam met die honderde Russiese verskaffers wat ons onderneming ondersteun, asook ons plaaslike franchisehouers. Hul toewyding en lojaliteit aan McDonald’s maak vandag se aankondiging uiters moeilik.

“Ons het egter ʼn verbintenis tot ons internasionale gemeenskap en moet standvastig in ons waardes bly.”

Die Russiese oorlog in Oekraïne het tot talle Westerse sanksies teen Rusland gelei en reeds die uittog van verskeie ander ondernemings, waaronder H&M, Starbucks en Ikea, veroorsaak.

Russiese owerhede sê hulle is gereed om buitelandse bates te nasionaliseer. Sommige amptenare het ook reeds aan Russe die versekering gegee dat hul gunstelinghandelsmerke plaaslike alternatiewe sal hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jean ·

Arme mense wat daar gewerk het, die onskuldige mense is altyd die wat in oorlog die ergste afkom.

Willempie ·

Hul voorraad paddas het seker opgedroog vir die McFroggy burger.

Nie Verbaas ·

Maar hulle hou eerder n vuil tak waar paddas op burgers eindig en wat arrogante bestuur het?

domheks ·

Oom cyrrrel moet maar sy deel ook verkoop met paddas en al!

Byekonfyt ·

Nou’s die gulde geleentheid om McRussian daar te open.

marius ·

Verkoop om steeds geld te maak en roem op beginsels? Pffffttt!

Pim die Skim ·

Rusland is beter daaraan toe met die McDonalds daarweg. Hulle sal nie gemis word nie.

Cryptogruppe ·

Shame – hulle sal seker een dollar kry vir alles – en daarna sal die lewe voortgaan asof niks gebeur het nie. Virtue signalling at its very best.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.