Medestigter van Red Bull sterf

Dietrich Mateschitz (Foto: Formula 1, Twitter)

Dietrich Mateschitz, medestigter van die wêreldbekende energiedrankie, Red Bull, is Saterdag in die ouderdom van 78 jaar oorlede.

BBC berig Mateschitz, ’n Oostenryker, was die dryfkrag agter die vestiging van wat die wêreldwye markleier in energiedrankies geword het.

Hy het die fortuin wat daardeur geskep is, gebruik om ʼn Formule 1-span op die been te bring wat een van die voorste kragte in die sport geword het.

“Dit is baie, baie hartseer, wat ʼn wonderlike man,” het Red Bull se spanhoof, Christian Horner, gesê.

“Wat hy bereik het en wat hy vir soveel mense gedoen het, regoor die wêreld in verskillende sportsoorte, is ongeëwenaar.”

Toe hy met Sky Sports gepraat het voor Saterdag se kwalifisering by die Amerikaanse Grand Prix, oomblikke nadat Mateschitz se dood aangekondig is, het Horner gesê sy span is vasbeslote om “ons bes vir hom te doen” in die kwalifisering en in Sondag se wedren.

“Ons is dankbaar vir hom vir die geleenthede wat hy gebied het en die visie wat hy gehad het.”

Stefano Domenicali, uitvoerende hoof van Formule 1, het gesê hy is “baie hartseer” en noem Mateschitz “’n uiters gerespekteerde en baie geliefde lid van die Formule 1-familie”.

“Hy was ʼn ongelooflike visioenêre entrepreneur en ʼn man wat gehelp het om ons sport te transformeer en die Red Bull-handelsmerk geskep het wat regoor die wêreld bekend is,” sê Domenicali.

Mateschitz was ʼn verkoopsman vir die verbruikersgoederemaatskappy Procter & Gamble toe hy Krating Daeng, die drankie wat Red Bull sou word, op sy reise in Thailand ontdek het.

In 1984 het hy Red Bull saam met sy medestigter, Thai Chaleo Yoovidhya, gestig en die Red Bull-handelsmerk in 1987 bekend gestel. Dit het uiteindelik die wêreld se voorste energiedrankie geword en hom ʼn fortuin besorg wat op $25 miljard geraam is.

Hy het die handelsmerk begin assosieer met uiterste sportsoorte soos branderplankry, kransduik, wintersport en bergfietsry, en Red Bull het as ʼn borg by baie daarvan betrokke geraak.

Red Bull het nou 13 000 mense in 172 lande in diens met ʼn jaarlikse omset van sowat agt miljard euro. Byna tien miljard blikkies van die drankie word per jaar verkoop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.