‘Media het wel prins Harry se foongesprekke afgeluister’, sê hof

Prins Harry (Foto: Twitter)

ʼn Regter in Brittanje het beslis dat prins Harry se selfoongesprekke deur joernaliste wat vir die Mirror Group Newspapers (MGN) werk, afgeluister is en het skadevergoeding van £140 600 (R3,2 miljoen) aan die koninklike toegeken.

Dié saak is een van talle regsake wat Harry teen die Britse media aanhangig gemaak het.

Hooggeregshofregter Timothy Fancourt het ten gunste van die hertog van Sussex beslis in 15 van die 33 voorbeeldartikels wat die prins as bewyse ingedien het in sy regsgeding teen MGN. MGN is die uitgewer van poniekoerante soos Mirror, Sunday Mirror en Sunday People.

Fancourt het tot die gevolgtrekking gekom dat die koerante tussen 2006 en 2011 ʼn “uitgebreide” veldtog uitgevoer het waarin bekendes se selfoonoproepe afgeluister is. Dít te midde van ʼn openbare ondersoek na die optrede van die Britse pers.

Fancourt het gesê Harry se persoonlike foon is tussen 2003 en 2009 geteiken en dat die 15 artikels wat gepubliseer is “die produk van die onwettige insameling van inligting” was.

“Ek is van mening dat sy foon net in ʼn beskeie mate geteiken is, en dat dit waarskynlik noukeurig deur sekere mense by elke koerant beheer is,” het die regter gesê.

Harry se prokureurs het in ʼn verklaring buite die hof gesê die uitspraak is “regverdig en bevestigend”.

“Daar is vir my gesê dat om drake dood te maak, jou sal brand,” het Harry se verklaring gelui.

“Maar in die lig van hierdie oorwinning en die belangrikheid daarvan om te doen wat nodig is vir ʼn vrye en eerlike pers, is dit ʼn verdienstelike prys om te betaal. Die missie duur voort.”

Die prins het al jare lank ʼn onstuimige verhouding met die Britse pers. Hy hou boonop die media verantwoordelik vir die dood van sy ma, prinses Diana, nadat sy in 1997 verongeluk het terwyl paparazzi haar in Parys gevolg het.

Hy was ook die eerste senior Britse koninklike in meer as ʼn eeu wat in die hof getuig het nadat hy MGN oor die aangeleentheid aangevat het.

ʼn Woordvoerder van MGN het om verskoning gevra vir sy “historiese oortredings” en het onderneem om “volle verantwoordelikheid te neem en die toepaslike vergoeding te betaal”.

MGN het erken dat daar “ʼn paar bewyse” was van inligting wat onwettig ingesamel is wat verband hou met ʼn artikel oor Harry. Die uitgewer het egter ontken dat dit stempos onderskep het en ook aangevoer dat sommige eise te laat deur Harry en die ander eisers ingedien is.

Vrydag se uitspraak het tot die gevolgtrekking gekom dat senior bestuurders van MGN “hulle blind gestaar het” teen onwettige praktyke waarin joernaliste of private ondersoekers inligting deur nabootsing bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.