Mediahuis moet miljoene opdok vir skadevergoeding

Rebel Wilson (Foto: Instagram)

ʼn Australiese hooggeregshof het vandeesweek die mediareus Bauer Media beveel om skadevergoeding ter waarde van 4,56 miljoen Australiese dollar te betaal ná tydskrifartikels van dié instansie glo tot werksverliese vir die aktrise Rebel Wilson gelei het.

Volgens die nuuswebwerf The Sydney Morning Herald is dit die meeste geld ter skadevergoeding nóg wat al in die geskiedenis vir soortgelyke sake uitbetaal is.

Wilson het vroeër aangevoer Bauer Media, wat onder meer die tydskrifte Woman’s Day, Australian Women’s Weekly, NW en OK besit, se artikels wat aanvoer dat sy gejok het oor haar ouderdom, oorsprong van haar naam en haar grootwordjare in Sydney, is nié die waarheid nie. Die aktrise het gesê die artikels oor haar het tot werksverliese én ʼn vertrouensbreuk tussen haar en die filmbedryf gelei.

Regter John Dixon het gesê dié groot bedrag skadevergoeding moet aan haar uitbetaal word om haar goeie naam as aktrise te probeer herstel nadat dit “verkeerdelik” skade gely het.

Wilson was in Londen tydens die uitspraak en kon nie onmiddellik daarop kommentaar lewer nie. Sy het egter op Twitter gesê die hofsaak “was nie oor die geld nie”.

“Ek sien daarna uit om ʼn paar wonderlike Australiese liefdadigheidsorganisasies te help en om die filmbedryf te ondersteun met die skadevergoeding wat ek ontvang het. Ek sien ook daarna uit om weer te fokus op my loopbaan en almal te vermaak!” het sy op Twitter gesê.

Richard Leder, Wilson se prokureur, het gesê die skadevergoeding wat aan die aktrise uitbetaal moet word, is sowat vier keer hoër as die vorige rekord in ʼn skadevergoedingsaak. Hulle beplan ook om te versoek dat Bauer Media haar regskoste dra.

Bauer Media het in ʼn verklaring gesê die skadevergoeding is “buitengewoon hoog” en toegestaan op “die onduidelikste grondslag”. Die mediareus se prokureur, Georgina Schoff, het gesê dit maak nie sin dat die saak in die aktrise se guns beslis is nie, want Wilson het glo nie bewys dat die artikels haar finansiële verliese laat ly het nie.

ʼn Jurie het egter bevind Bauer Media het wel verkeerdelik berig dat sy gejok het oor haar ouderdom of dat sy tydens ʼn malaria-aanval gehallusineer het dat sy ʼn Oscar-toekenning gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Speedguard ·

Gee dan die geld vir welsyn as dit nie oor geld gegaan het nie ! “put your money where your mouth is doll”

Marihete Muller ·

Sy noem dat sy die geld gaan skenk.
Direkte aanhaling: “Ek sien daarna uit om ʼn paar wonderlike Australiese liefdadigheidsorganisasies te help en om die filmbedryf te ondersteun met die skadevergoeding wat ek ontvang het.”

Bloues ·

Speedguard, my oorle ouma het altyd gesê ” lees mooi my kind, dis n wonderlike ervaring”

Hennie ·

Speedguard en Marihete Muller moenie dat die geld julle pla nie. Wilson was bewustelik verkeerd aangehaal en daarom het sy die saak gewen. As sy dan ‘n gedeelte van die geld wil skenk, laat haar toe om self daaroor te beluit. As dit julle twee was wat die geld moes ontvang, sou julle seker nie daarvan geskenk het nie

Swapie ·

Skenk aan welsyn? Vir wat? Hoekom word daar altyd verwag as iemand n meevaller kry dat hulle moet skenk vir een of ander “goeie doel”?
Blaas dit girl!

J ·

Bloues JA stem saam, by die LEES moet daar mooi GEDINK word ook, die media is SLAGVELD mag almal leer uit almal se DUUR LESSE!

Liefie ·

Genade mense wat maak dit saak hoeveel geld sy gekry het of wat sy daarmee gaan maak? Vir my part kan sy dit skenk, uit drink, rook of wat ookal. Sy het n punt probeer wys en ek saluut haar!. Wel done GIRL!. Meer mense moet leer om hulle snaters toe te hou en op hou skinder en twak praat!

Leeu ·

As dit nie oor geld gegaan het nie, sou sy soos Taylor Swift gemaak het, en vir $1 gedagvaar het.

LoL ·

Hoekom stry almal oor lees hier as die vrou nie in n boek eers speel nie …….sy speel in flieks ………Ek dink dit is snaaks dat sy so baie geld gewen het en nie eens n lotto kaartjie gekoop nie …..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.