Meer as 1 000 dood aan koronavirus

Mense loop Dinsdag met maskers in ‘n straat in Hongkong. (Foto: Kin Cheung, AP)

Die gevreesde koronavirus het nou meer as ’n 1 000 lewens geëis.

Sowat 103 mense is net Maandag in die Hubei-provinsie in China aan die virus dood. Die dodetal staan tans op 1 016. Dit is aansienlik meer as die getal sterftes weens die SARS-epidemie wat destyds ook in China ontstaan het en tussen 2002 en 2003 vir meer as 774 sterftes wêreldwyd gesorg het.

Ten spyte van dié hoë dodetal was die getal nuwe gevalle wat in China aangemeld is Maandag byna 20% laer as die vorige dag, af van 3 062 bevestigde gevalle na 2 478.

Hubei se gesondheidskommissie het ook ’n afname beleef met 2 097 nuwe gevalle gister in dié provinsie, vergeleke met 2 618 die vorige dag.

Daar is egter meer as 40 bevestigde gevalle in 28 lande buite China aangemeld, met die eerste Amerikaner wat vandeesweek weens die virus in Wuhan in Hubei gesterf het.

Verslaggewers Dinsdag buite die Diamond Princess by ‘n hawe in Jokohama. (Foto: C. Hong, AP)

Altesaam 135 passasiers aan boord die Diamond Princess het intussen ook positief getoets vir die virus, waaronder 24 Amerikaners.

Die skip is reeds geruime tyd in ’n hawe in Jokohama in Japan vasgemeer, terwyl sowat 3 700 passasiers een vir een getoets moes word.

‘Swak hantering van uitbreking’

China het intussen verskeie senior amptenare ontslaan oor die wyse waarop hulle die uitbreking van die virus hanteer het sedert dit die eerste keer in Desember in die Hubei-provinsie kop uit gesteek het.

Volgens die Chinese media is honderde mense afgedank en ondersoeke begin.

Die partysekretaris van die Hubei-gesondheidskommissie, asook die hoof van dié kommissie, tel onder diegene wat hul werk verloor het.

Die Chinese President Xi Jinping (links) besoek Maandag ‘n gemeenskapsgeondheidsentrum in Beijing, (Pang Xinglei/Xinhua via AP)

Die hoof van die gesondheidskommissie van Huanggang, nog ’n stad in Hubei wat deur die virus geraak is, asook die adjunkdirekteur van die plaaslike Rooikruis, het die trekpas gekry. Laasgenoemde is verwyder omdat hy glo donasies verkeerd hanteer het.

Die Chinese owerhede word ook al meer gekritiseer vir hul hantering van die krisis, nadat een van die dokters wat in Desember vir die eerste keer alarm gemaak het oor die uitbreek van die dodelike koronavirus, verlede week gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig dr. Li Wenliang (34) is in ’n hospitaal in Wuhan in China dood waar die eerste geval van die virus aangemeld is. Hy het die virus opgedoen terwyl hy ’n pasiënt hiervoor behandel het.

Li het sy volgelinge op die sosialemediaplatform Weibo gewaarsku dat sewe pasiënte die virus opgedoen het. Die polisie het hom egter kort daarna besoek en gedwing om ’n verklaring te onderteken waarin hy moes aanvoer dat hy onwaarhede rakende die virus versprei het.

Bronne: BBC, CNN, ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

charmaine ·

Ek hoop Dokter Li se vrou dagvaar die regering van China omdat hulle haar man so sleg behandel het omdat hy mense gewaarsku het en nou is hy ook dood en so baie mense alreeds oorlede.

Magda ·

SA – hier kan julle leer – As julle nie julle werk doen – BYE BYE. Dan sit ons met net 1% Regering!!!

Hekwag ·

Nou laat ek sien…. 1016 uit 7.7 biljoen mense op aarde…. hmmmm

Remondo ·

Dit is erg van al die sterftes , my innige simpatie aan naasbestaandes – MAAR ons moord syfer in SA is 56 per dag ons verloor elke 18dae 1000 mense , hoekom rol iemand se kop nie daar oor nie ? waar is die ‘updated’ syfers elke dag hieroor? Vra maar net,,,,,,,,,,,,,,,,,,

Estelle ·

Ek stem saam Remondo – en die wereld bly stil oor die moorde hier in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.