Meer as 1 000 nog vermis ná aardbewing in Indonesië

Indonesië (Oktober 2018) Foto: Agung Kuncahya B./Xinhua)

Meer as 1 000 persone in een dorpie in Indonesië word nog vermis ná hul huise deur modder ingesluk is tydens verlede week se aardbewings, het die nasionale soek- en reddingsagentskap Vrydag gesê.

Die dodetal van die aardbewings en ʼn tsoenami wat Sulawesi-eiland getref het, kom op 1 658 te staan, volgens die minister van veiligheid. Beamptes het gewaarsku dat dié getal waarskynlik steeds sal styg.

Die minister het gesê amptelik word 684 persone nog vermis – ʼn skerp styging van die vorige getal van 113 wat deur die nasionale rampbestuuragentskap bekend gemaak is. Owerhede vermoed egter honderde ander persone is nog nie as vermis aangemeld nie.

Huise in Balaroa, Palu het verdwyn weens ʼn sinkgat wat ingeval het ná die aardbewing, het Yusuf Latief, woordvoerder van die reddingsagentskap, gesê. “Een van die hoofde in die gebied het vir ons gesê meer as 1 000 persone word waarskynlik vermis.”

Noodverligtingspogings duur steeds voort, een week ná die ramp. Elf lande, insluitend die VSA en Engeland, het 20 vliegtuie na die gebied gestuur. Die land aanvaar slegs hulp van ander lande in die vorm van lugvervoer, tente, waterbehandelingsfasiliteite, kragopwekkers en mobiele hospitale.

In Jo Oge word 200 studente, wat ʼn Bybelkamp bygewoon het, steeds vermis nadat die kerkgebou deur modder weggesleep is. Veertig liggame is reeds gevind. Slegs een persoon het lewendig ontsnap.

Volgens die Verenigde Nasies het nagenoeg 200 000 persone dringende humanitêre bystand nodig en meer as 1,5 miljoen is deur die ramp geraak.

Die Sulawesi-aardbewings volg ná 550 persone dood is en meer as 400 000 dakloos gelaat is ná aardbewings op Lombok-eiland in Augustus.

Ongeveer 230 000 persone is in twaalf lande dood ná ʼn aardbewing van 9.1 die weskus van Indonesië se Sumatra-eiland getref het en ʼn verwoestende tsoenami op 26 Desember 2004 gevolg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.