Meer as 1 miljoen Oekraïners keer terug na hul land

Die ma van ‘n Oekraïnse soldaat by sy doodskis. (Foto: Yuriy Dyachyshyn / AFP)

Minstens 1,1 miljoen Oekraïners het al na hul land teruggekeer sedert Rusland se gewelddadige inval in Februarie vanjaar.

Dié syfer is Woensdag tydens ʼn mediakonferensie deur Andriy Demchenko, ʼn woordvoerder vir Kiëf se grensmag, bekendgemaak.

Demchenko het egter nie gespesifiseer hoeveel terugkerendes vroeër weens die oorlog uit die land gevlug het nie. Hy het ook gesê dat sowat 2 000 mense in hegtenis geneem is nadat hulle die land onwettig probeer ingaan het.

Maroela Media het vroeër berig dat meer as vyf miljoen mense, van wie die meeste vroue en kinders, al oor landsgrense en na buurlande gevlug het sedert die oorlog uitgebreek het. Dié uittog is as Europa se snelgroeiendste vlugtelingkrisis sedert die Tweede Wêreldoorlog bestempel.

Talle liggame is in die strate van Bucha aangetref na Russiese troepe onttrek het (Foto: Ronaldo Schemidt/AFP)

Kiëf se burgemeester, Vitali Klitschko, het vroeër vandeesmaand aan vlugtelinge gesê om nog nie terug te keer huis toe nie, aangesien Rusland steeds die hoofstad met missielaanvalle teiken.

Daar is intussen aangekondig dat die beleërde hawestad Marioepol “binne ure kan val”. 

“Die vyand oortref ons met tien teen een,” het Serhiy Volyna van die 36ste afsonderlike marinebrigade gesê. Daar word nou volgens ʼn ooreenkoms met Russiese magte beplan om ʼn veilige roete oop te stel sodat burgerlikes uit Marioepol kan vlug. Volgens die adjunkpremier, Iryna Vereshchuk, sluit dié ooreenkoms vroue, kinders en bejaardes in. Meer as 140 burgerlikes en vyf Oekraïense manskappe wat hulle oorgegee het, is reeds uit Marioepol verwyder.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan D ·

Hoekom ʼn ooreenkoms met die moordenaar en sy verkragter troepe? Poetin moet liewers onttrek en begin herstel aan die skade!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.