Meer as 100 olifante in vreemde omstandighede dood

Meer as 100 olifante het onder vreemde omstandighede gevrek (Foto: Photo:Facebook/BWgovernment)

Omtrent 115 olifante het sedert 25 April een vir een in vreemde omstandighede in die gebiede rondom Gunotsoga, Eretsha en Serongo in Botswana gevrek. Die oorsaak van die dood van dié olifante bly egter steeds ʼn raaisel.

Die Botswana Daily Mail berig daar is aanvanklik bespiegel dat die olifante weens ʼn tipe miltsiekte gevrek het. Dit volg nadat daar verlede jaar miltsiekte onder die olifante uitgebreek en tot die dood van olifante en seekoeie gelei het.

Die hoofveearts van die departement van wild en nasionale parke, dr. Wave Kashweeka, het ná ʼn nadoodse ondersoek bevestig dat dit wel nie weer miltsiekte was nie.

Volgens Kashweeka het die nadoodse ondersoek aan die lig gebring dat al die dooie olifante verswakte harte gehad het. Hy het ook monsters van ʼn verdoofde olifant geneem om dit te vergelyk met die monsters van die dooie olifante.

Die monsters van die dooie olifante is op 23 Mei geneem en na laboratoriums in Pretoria en die Victoria-waterval gestuur vir verdere toetse.

Volgens Kashweeka is daar ook gevind dat van die olifante in dieselfde gebied sleepvoet loop.

Intussen is meer as 50 dooie olifante in die Okavangodelta in Botswana aangetref.

Dimakatso Ntshebe, die streekbestuurder vir wildlewe, het aan The Voice-koerant gesê voedsel- en watervergiftiging kan nie as moontlike oorsaak van dié olifante se dood beskou word nie, aangesien ander diere in die omgewing ook dan sou vrek. Stropery is ook uitgesluit omdat alle karkasse ongeskonde gevind is.

“Die olifante drink uit dieselfde waterbron en eet dieselfde kos as die ander diere. As daar enige besmetting was, sou die ander diere ook gevrek het. Roof- en aasdiere wat die karkasse van die olifante geëet het, sou ook siek geword en gesterf het,” het Ntshebe aan die koerant gesê.

Omdat die oorsaak van dié olifante se dood nog onbekend is, word mense gewaarsku om nie aan die dooie olifante te raak of van hul vleis te eet nie.

Philda Kereng, Botswana se minister van omgewing, natuurbewaring en toerisme, het gesê die olifante se dood is kommerwekkend.

“Ons het nog altyd as land staatgemaak op ons toerisme as ʼn bron van inkomste, en hierdie olifante is een van die toeriste-aantreklikhede in die land,” het Kereng gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Plaaskind ·

Ai nee, hoop nie dis weer een of ander skelmstreek nie. Olifante is reeds so min.

JohanR ·

Al wat ek kan se is dat hulle moet die longe ondersoek. As die wereld se diere begin Covid-19 kry, dan is ons diep in die perde mis. Wat gaan die wereld dan maak as ‘n hond of kat jou Covid-19 kan gee? Hier kom die Apocalypse!

Grens ·

Die Chobe distrik is vervuil van die olifante, heeltemal oorbevolk daar. Die bos is al so verwoes van hulle wat alles breek en omstoot daar. ‘n Klompie minder kan net daai area goed doen.

Anoniem ·

Stem saam, ek het 2 jaar gelede deur Botswana getoer en kon die verwoesting opmerk. Daar is hopeloos te veel olifante en dis moontlik die natuur se manier van terugveg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.