Meer as 100 olifante vrek weens Botswana-droogte

Argieffoto

Meer as 100 olifante het oor die afgelope twee maande in die noorde van Botswana gevrek weens die voortslepende droogte ook in dié land.

Felix Monggae, adjunksekretaris van die land se toerisme-ministerie, het gesê die diere het gevrek ná ʼn uitbreking van antraks (miltsiekte) in Botswana. Dié veroorsakende bakterie is ʼn simptoom van droogte en sal slegs wyk indien dit reën, verduidelik Monggae.

Luidens ʼn verklaring kry olifante grond in weens karige weiding. Dit is dán dat hulle aan antraks blootgestel word.

Die droogte het ook sy tol in die gebied van die Ngami-meer geëis met 200 seekoeie en sowat 40 000 beeste wat, namate dié meer opdroog, in modder vasgeval en sommige gevrek het.

Volgens Monggae word Botswana se reënval tussen Oktober en April voorspel. Dié reëns het egter nog nie gekom nie. Volgens die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) kan die vinger na klimaatsverandering gewys word wat daartoe gelei het dat sentrale en westelike gebiede dié reënseisoen die ergste gaan deurloop onder droogte.

“Groot dele van Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe het hulle laagste algehele reënval sedert 1981 ontvang,” sê die SAO.

Volgens Monggae het een van die land se aantreklikhede, die Okavango-delta, ook reeds opgedroog.

In Zimbabwe het meer as 50 olifante al weens die verwoestende droogte gevrek. Altesaam 19 mense is ook in dié land deur olifante doodgetrap namate grootpote op soek na kos deur nedersettings beweeg het.

“Ons doen ons bes. Ons het watertenke voorsien in afgeleë plekke … Ons bid vir die reën om vinnig te kom,” sê Monggae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hansie ·

Dit bewys weer dat ons nie met die natuur moet inmeng nie, net verlede jaar was daar konsessies uitgegee om die getalle te verminder. Ek is seker hierdie konsessies gaan nie nou hul kwota verlaag nie, so ondertussen krimp die getalle drasties

Chris Ws ·

Die dae van ” melk en heuning” vir die Suidelike halfrond lande in Afrika is verby.Die 40,000 beeste wat in modder vasgeval het is deel van die oorsaak.Daar is oorbeweiding op grootskaal wat plaasvind.Burgers hoord beperk te word hoeveel beeste hulle mag aanhou per gesin.

Grens ·

Net die natuur se manier om met die probleem van te veel olifante, af te reken. Die hele area daar is so verwoes deur die olifante, daar is amper nie ‘n boom oor wat nie gebreek is deur hulle nie.

Gaitsigubib ·

Nee nou maak jy beslis nie sin nie, die olifante het dan gevrek weens droogte? Al het die gebied ook te veel beeste kompeteer beeste nie in so mate met olifante nie, want beeste kan nie bas afstroop en bome om stoot nie. Die olifante wat vrek is bloot die gevolg van groenes wat nie wil luister nie. Olifante is bo aan die punt van die voedselketting met min natuurlike vyande. Alles onder hulle vrek eers want hulle is habitat verwoesters, dan vrek hulle ook. In Mapungubwe en in die Tuli blok is alle annabome geringbas en besig om te vrek (van te veel olifante). Ry na Leokwe kamp dan sien jy die verwoesing aan kremetartbome wat ouer as 3000 jaar geskat word. Ek het die limpopo woud gesien soos hy was. Jy en jou groen trawante sal die verwoesting eendag aan ons kinders moet verduidelik.

aj ·

Dit is tragies maar dis nodig.

Die natuur stel oorbevolking reg op sy eie manier.

Klimaatsverandering is die natuur se manier ….?

Gaitsigubib ·

Nou dat die olifante op onmenslike wyse sterf a.g.v die droogte is die groenes maar stil. Wanneer ons weer wil cull of jag sal mens seker weer van hulle hoor. Die prys wat die natuur vir hul onregverdigbare argunente moet betaal is amper te hoog om te aanskou.

@grens ·

Nie te veel Olifante nie, maar wel te veel mense. Burgers behoort beperk te word op die hoeveelheid kinders wat hulle mag aanhou. Die mens verwoes hulle natuurlike omgewing, daarom is daar nie weiding of genoeg water nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.