Meer as 200 sterf in Afghanistan tydens kitsvloede

Inwoners langs ʼn pad in ʼn oorstroomde gebied tussen Samangan en Mazar-i-Sharif in Feroz Nakhchir, Samangan in Afghanistan (11 Mei 2024) (Foto: Atif Aryan/AFP)

Meer as 200 mense is dood in kitsvloede wat verskeie provinsies van Afghanistan getref het, het die Verenigde Nasies Saterdag gesê. Owerhede het ʼn noodtoestand afgekondig en dringend reddingsbeamptes ontplooi.

Swaar reën Vrydag het riviere water en modder deur dorpe en oor landbougrond in verskeie provinsies laat stroom. Die noordelike Baghlan is die swaarste hierdeur getref.

Meer as 200 mense is dood en duisende huise is verwoes of beskadig in Baghlan, het die VN se internasionale organisasie vir migrasie (IOM) aan AFP gesê.

Tot 1 500 huise is in een distrik, Baghlani Jadid, beskadig of verwoes en “meer as 100 mense is hier dood”, het Mohammad Fahim Safie, programmebeampte aan die hoof van IOM se noodreaksie, gesê.

Beamptes van die Taliban-regering het gesê teen Vrydagaand het 62 mense gesterf.

“Honderde van ons landsburgers is getref deur hierdie rampspoedige vloede,” het regeringswoordvoerder Zabihullah Mujahid Saterdag in ʼn verklaring op X (Twitter) gesê. Hy het nie onderskeid getref tussen die getalle van persone wat gesterf het of beseer is nie, maar het aan AFP gesê “dosyne is dood”.

Reën het Vrydag ook skade aangerig in die noordoostelike Badakhshan, sentrale Ghor en westelike Herat-provinsies.

Nooddienste is gou ontplooi om beseerde en gestrande persone by te staan, aldus die ministerie van verdediging.

“Benewens sterftes het die vloede ook groot finansiële verliese veroorsaak vir die mense,” het Ahmad Seyar Sajid, hoof van die departement van rampbestuur, gesê. Hy beraam 20 mense is dood in Takhar, waar hy geleë is.

Die land wat al vier dekades lank deur oorlog geteister word, is een van die armstes in die wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.