Meer as 250 dood in militêre vliegtuigongeluk

Die militêre vliegtuig (Foto: Xinhua)

Minstens 257 mense van Algerië is Woensdag dood in ʼn militêre vliegtuigongeluk.

Die voorval het glo gebeur kort nadat die militêre vliegtuig van die Boufarik-lugmagbasis na Bechar in die weste van die land vertrek het.

Die nuuswebwerf Aljazeera berig die passasiers aan boord die Ilyushin Il-76-vliegtuig was hoofsaaklik soldate.

Volgens polisieowerhede in dié land is die oorsaak van die ongeluk nog nie bekend nie. Televisiebeeldmateriaal wys 14 ambulanse op die toneel wat talle beseerdes na nabygeleë hospitale haas.

Die militêre vliegtuig (Foto: Xinhua)

ʼn Amptelike dodetal is nog nié uitgereik nie. Aanvanklik is gehoor minstens 105 is dood, maar meer as 150 ander mense se dood is teen Woensdagmiddag bevestig.

Ahmed Gaid Salah, Algerië se militêre hoof, het intussen beveel dat ʼn ondersoek na die voorval onmiddellik van stapel gestuur word.

Die vliegtuigongeluk is die noodlottigste wat die land nóg getref het. In 2003 is 102 mense dood kort nadat ʼn vliegtuig in Tamanrasset in dié land opgestyg het.

In 2017 is meer as 77 weermaglede en hul familielede dood toe ʼn militêre vliegtuig teen ʼn bergreeks gebots het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anelia ·

Taal : Mees noodlottige teenoor noodlottigste?… Vra maar net…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.