Meer as 280 sterf in Indië-treinramp

Reddingswerkers op die toneel naby Belasore in Indië waar drie treine in ʼn ongeluk betrokke was (3 Junie 2023) (Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP)

Minstens 288 mense is dood en meer as 850 beseer in ʼn grusame treinongeluk in Indië, het beamptes Saterdag gesê. Dit is die land se dodelikste treinongeluk in meer as 20 jaar.

Die voorval het naby Balasore in die oostelike staat van Odisha plaasgevind, sowat 200 km van die staatshoofstad Bhubaneswar.

Treinwaens het laat Vrydag omgeslaan en reddingswerkers is op soek na oorlewendes wat in die puin vasgekeer kan wees. Talle liggame lê buite die trein onder wit lakens.

Reddingswerkers kon Saterdag eers met sonsopkoms die volle omvang van die verwoesting aanskou.

Sudhanshu Sarangi, direkteur-generaal van Odisha-brandweer, het gesê die dodetal staan op 288. “Die reddingswerk duur voort,” het hy aan AFP van die ongelukstoneel gesê en bygevoeg “daar is baie mense met ernstige beserings”.

Indië het al verskeie treinrampe beleef. In 1981 het ʼn trein ontspoor toe dit ʼn brug in Bihar oorgesteek en in die rivier onder die brug beland het. Tussen 800 en 1 000 mense is dood.

Vrydag se ongeluk is egter die ergste sedert die 1990’s.

Pradeep Jena, hoofsekretaris van Odisha, het bevestig dat sowat 850 beseerde mense na hospitale geneem is.

“Ons grootste prioriteit nou is om die passasiers te red en die beseerdes te behandel,” het hy gesê.

Amitabh Sharma, uitvoerende direkteur van Indian Railways, het aan AFP gesê twee passasierstreine “was aktief by die ongeluk betrokke”. ʼn Derde trein, ʼn goederetrein, wat op die toneel geparkeer gestaan het, was ook betrokke.

Een oorlewende het aan plaaslike TV-nuusverslaggewers gesê hy het gelê en slaap toe die ongeluk plaasgevind het. Hy het wakker geword en was onder sowat ʼn dosyn medepassasiers vasgekeer. Hy kon uit die trein kruip met beserings slegs aan sy nek en arm.

Die beseerde persone is met ambulanse en busse na enige hospitaal, wat ruimte het, vervoer.

Volgens SK Panda, ʼn woordvoerder in Jena se kantoor in Odisha, “staan alle groot staat- en privaat hospitale gereed om die beseerde persone te ondersteun”.

Panda het bygevoeg owerhede het “75 ambulanse na die toneel gestuur en talle busse ontplooi om die beseerde passasiers te vervoer”.

Die Indiese eerste minister Narendra Modi het gesê hy is “baie geskok oor die treinongeluk”.

“In hierdie uur van rou dink ons aan die families. Mag die beseerdes vinnig herstel,” het Modi op Twitter gesê. Hy het met Ashwini Vaishnaw, minister van spoorvervoer, kontak gemaak om die situasie in oënskou te neem.

Vaishnaw het gesê hy haas hom na die toneel, saam met reddingspanne insluitend die nasionale rampreaksiemag en lugmag.

“Ons vat almal hande vir die reddingsoperasies,” het hy op Twitter gesê.

Nepal se eerste minister Pushpa Kamal Dahal het ook sy “innige meegevoel” betuig “in hierdie uur van rou”.

Vedant Patel, woordvoerder vir die Amerikaanse staatsdepartement, het gesê: “Ons dink aan die mense van Indië in hierdie tyd.”

Spoorwegveiligheid het oor die afgelope paar jaar beduidend verbeter in Indië danksy nuwe beleggings en opgraderings aan tegnologie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.