Meer as 3 000 betogers vas in Rusland; Kremlin kap na VSA

Betogers en polisiebeamptes het Saterdag slaag geraak in Moskou. Foto: Kirill KUDRYAVTSEV/AFP

Die Kremlin het Amerika Sondag daarvan beskuldig dat hy by Rusland se sake inmeng en terselfdertyd die omvang van die naweek se betogings waar duisende mense ter ondersteuning aan Alexei Navalny die strate ingevaar het, afgemaak.

Meer as 3 000 betogers is Saterdag tydens betogings reg oor die land in hegtenis geneem en talle is beseer nadat hulle met die polisie in Moskou slaags geraak het. Navalny het ’n beroep op Russe gedoen om teen pres. Wladimir Poetin se bewind van die afgelope 20 jaar te betoog.

Die Weste het die manier waarop betogers deur polisiebeamptes hanteer is wyd veroordeel, met die Franse minister van buitelandse sake, Jean-Yves Le Drian, wat Sondag gesê het die inhegtenisneming van betogers is ’n “onverdraagsame belediging” en ’n “skuif na outoritarisme”. Josep Borrell, die EU se hoof vir buitelandse beleid, het gesê “volgende stappe” in die verband sal Maandag bespreek word.

Poetin se woordvoerder, Dmitry Peskov, het die Amerikaanse ambassade Sondag daarvan beskuldig dat hulle inmeng in Russiese sake nadat die ambassade ’n waarskuwing aan Amerikaanse burgers in Rusland versprei het en aanbeveel het dat hulle die betogings vermy.

Betogers en polisiebeamptes het Saterdag slaag geraak in Moskou. Foto: NATALIA KOLESNIKOVA/AFP

“Natuurlik is hierdie publikasies onvanpas,” het Peskov aan ’n staatsbeheerde TV-kanaal gesê. “En natuurlik is dit indirek ’n inmenging in ons interne sake.”

’n Woordvoerder van die Amerikaanse ambassade het gesê Amerikaanse ambassades en konsulate reg oor die wêreld reik gereeld veiligheidswaarskuwings aan Amerikaanse burgers uit. Die Amerikaanse ambassade in Moskou het Saterdag gesê dat Washington die reg van alle mense om vreedsaam protes aan te teken en vryheid van uitdrukking steun.

Peskov het die organiseerders van protesaksies daarvan beskuldig dat hulle onmin probeer saai en gesê die aantal mense wat betoog het, is baie min in vergelyking met Poetin-ondersteuners. “Baie mense stem vir Poetin,” het Peskov gesê en gewys op die grondwetlike volkstemming van verlede jaar wat die 68-jarige Poetin tot 2036 aan bewind kan laat bly.

Foto: Skermskoot/YouTube

Navalny, Poetin se vernaamste kritikus, is in hegtenis geneem nadat hy verlede naweek na Moskou teruggekeer het ná maande se behandeling in Duitsland nadat hy vergiftig is.

Volgens AFP-joernaliste het meer as 20 000 mense aan protesaksies in Moskou deelgeneem en meer as 10 000 in Sint Petersburg. Daar is ook in ander Russiese stede en in ander lande, onder meer Frankryk, protesaksies gehou.

Navalny se bewering dat Poetin ’n weelderige eiendom aan die kus van die Swart See besit, het betogers veral boos. Navalny het ’n video op YouTube gelaai waarin hy aanvoer Poetin besit “die wêreld se duurste paleis” en dat die geld daarvoor deur korrupsie bekom is. Die video is al meer as 80 miljoen keer op YouTube gekyk.

Peskov het in reaksie gesê die luukse herehuis is private eiendom en het niks met Poetin te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Geensins…jy kan hul gladnie vergelyk nie. SA is in sak en as, Rusland was nog nooit beter af nie.

Johan ·

Poetin is van die beste leiers wat tans regeer, die Russe is oor die algemeen baie lief vir hom en hy doen baie om die land op te bou sonder om enige iemand te onderdruk. As daar meer soos hy was, was die wêreld n baie beter plek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.