Meer as 3 000 nou dood aan Covid-19

‘n Termiese kameramonitor wys Maandag reisigers se liggaamstemperatuur by ‘n treinstasie in Seoul in Suid-Korea.
in Seoul, South Korea,(Foto: Lee Jin-man, AP)

Die dodetal weens die gevreesde koronavirus, oftewel Covid-19, het Sondagaand tot meer as 3 000 gestyg. Sowat 3 044 het nou weens die virus omgekom, met 89 071 bevestigde gevalle in 53 lande aangemeld.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê hoewel die meeste van pasiënte matige simptome toon, sterf tussen 2% en 5% van mense wat met die virus gediagnoseer word.

Geen geval is nog in Suid-Afrika aangemeld nie, maar al meer gevalle word op die Afrika-vasteland aangemeld. Nog twee bevestigde gevalle is oor die naweek in Algerië aangemeld – ’n ma (53) en haar 24‑jarige dogter. Die getal gevalle in dié land staan nou op drie.

Daar is tans ook ’n moontlike geval van Covid-19 in Zimbabwe. Dié pasiënt is in kwarantyn geplaas nadat die individu onlangs vanuit Wuhan, China, op die Robert Gabriel Mugabe Internasionale Lughawe in Harare geland het. Die persoon het met die aankoms simptome van die virus getoon.

Nog ’n persoon is vroeër in Zimbabwe vir die virus getoets, nadat sy óók uit Wuhan geland het. Die vrou het aanvanklik negatief vir Covid-19 getoets, maar is oor die naweek weer vir evaluasie in ’n hospitaal opgeneem.

Werkers spuit Maandag ontsmettingsmiddel by ‘n winkelsentrum in Seoul, Suid-Korea. (Foto: Lee Jin-man, AP)

Hoewel Egipte nog nie weer ’n geval aangemeld het sedert sy eerste bevestigde geval op 19 Februarie nie, verban Katar nou enige reisigers uit Egipte, behalwe Katari-burgers. Dit uit vrees vir nóg gevalle wat die land mag binnekom.

Dit volg nadat nog twee bevestigde gevalle van Covid-19 in Katar aangemeld is. Altesaam drie mense het tot op hede in dié land positief vir die virus getoets.

Die res van Asië

Iran het op sy beurt nog 11 sterftes aangemeld. Altesaam 54 mense het in dié land aan die virus omgekom, wat dit die land met die meeste sterftes naas China maak. Sowat 90% van alle sterftes is in China aangemeld sedert die virus in Desember in Wuhan uitgebreek het. China het Sondag nog 42 sterftes aangemeld.

Twee persone in Indonesië het ook nou positief getoets vir Covid-19. Suid-Korea het ook nóg 500 bevestigde gevalle aangemeld. Vier mense het reeds in dié land weens die virus omgekom.

Europa

Toeriste staan Vrydag in rye buite die Louvre-museum in Parys. Die museum is sedertdien gesluit weens veiligheidsredes. (Foto: Rafael Yaghobzadeh)

Europa loop ook al meer deur onder Covid-19. Altesaam 1 694 mense het in Italië positief vir die virus getoets. Frankryk het reeds 130 bevestigde gevalle aangemeld. Die ikoniese Louvre-museum in Parys is nou as voorsorgmaatreël gesluit.

Die Tsjeggiese Republiek, Skotland en die Dominikaanse Republiek het intussen hul eerste bevestigde gevalle aangemeld.

Amerika

In Amerika het die Amerikaanse deelstaat Washington sy tweede sterfte aangemeld. Die persoon was in sy 70’s en het in ’n ouetehuis gewoon waar twee gevalle van Covid-19 vroeër aangemeld is.

Die staat New York het intussen ook sy eerste bevestigde geval aangemeld. Dié pasiënt het onlangs uit Iran teruggekeer.

Bronne: ANA, BBC, SkyNews, Aljazeera

Toeriste dra Sondag maskers by die O’Hare Internasionale Lughawe in Chicago in die VSA. (Foto: Nam Y. Huh, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Michael ·

Ek dink sou daar n duisend gevalle reeds in SA wees sal die regering nog steeds bevest6dat daar geen gevalle is nie ,hulle glo as jy iets ontken sal dit weggaan.

Josef du Toit ·

Deur die loop van Skrikkeldag het Ierland en Luxemburg elk hul eerste CoViD-19-diagnose aangemeld. By die koms van die weerkundige lente vanaf 1 Maart, is Portugal met sy meer as 10 miljoen inwoners, die laaste groot bastion teen die siekte in Wes-Europa.

Die lughawelose bergvorstedomme van Andorra & Liechtenstein, eilande Malta & twee-staat Siprus, sowel as die piepklein duisendtal inwoners van die Vatikaanstad, hou ook nog teen die pandemie uit.

Die drempel van 3,000 wêreldwye sterftes aan CoViD-19 is op 2 Maart oorgesteek, waarvan slegs 2 in Frankryk en 34 in Italië, wat Europa aanbetref – sover ‘n heel klein breukdeel van die gewone jaarlikse griepdodetal.

LIEZL ·

Wil net hoor…as Vigs statistieke bekend gemaak word, dan gaan ons super geskok wees. Ek dink dit oortref die Virus? Of is ek nou verkeerd?

Josef du Toit ·

Sekerlik, en so ook kanker, maar aborsie toring bo alle ander sterftes uit.

Josef du Toit ·

Beide Portugal & Andorra het in die afgelope ure hul eerste CoViD-19-gevalle aangemeld, helaas.

Jaco ·

Is die berigte van ‘n bevestigde geval van die Covid-19 (Corona Virus) in Lanseria waar of is dit net fob nuus?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.