Meer as 380 gestrande loodswalvisse reeds dood

Reddingswerkers probeer sommige van die gestrande walvisse red. (Foto: Brodie Weeding/AP)

Nog meer as die 270 loodswalvisse wat reeds aan die Australiese kus gestrand het, is intussen opgemerk. Die geraamde getal gestrande walvisse staan reeds op bykans 500, die grootste massastranding wat nóg in die land opgeteken is.

Die owerhede werk reeds geruime tyd om die oorlewende walvisse, wat Maandag op ʼn strand en tussen sandbanke naby die afgeleë kusdorp Strahan op die eiland Tasmanië gesien is, te red.

Nog 200 gestrande walvisse is Woensdag minder as tien kilometer suid daarvandaan uit die lug opgemerk, het Nic Deka, bestuurder van Tasmanië-park en -natuurlewedienste, gesê.

“Uit die lug het dit nie gelyk of hulle in ʼn toestand is wat ʼn reddingspoging die moeite werd sou maak nie. Die meeste het dood gelyk.”

Die walvisse sal nou per boot van nader ondersoek word en spanne sal uitgestuur word indien daar vasgestel word dat sommige van die walvisse wel gered kan word.

Luidens berigte is meer as 380 van die loodswalvisse reeds dood en sowat 50 is gered en na die oop see teruggelok.

Tasmanië is die enigste gedeelte van Australië waar walvisse geneig is om in massas te strand, hoewel die verskynsel soms ook langs die Australiese vasteland voorkom.

Die land se grootste massastranding was in Dunsborough in 1996, toe 320 loodswalvisse gestrand het.

Die jongste voorval is die eerste in Tasmanië sedert 2009 waarby meer as 50 walvisse betrokke is.

“In Tasmanië is dit die grootste [massastranding] wat ons tot dusver opgeteken het,” het Kris Carlyon, ʼn natuurlewebioloog betrokke by ʼn mariene bewaringsprogram, gesê.

Reddingspanne hoop egter om nog walvisse te help bevry.

Die koeler weer help “en ons staan ʼn goeie kans om meer [walvisse] van die sandbank af te kry”, het hy gesê.

Hoekom die walvisse gestrand het, bly ʼn raaisel. Die groep is moontlik na die kus om te vreet, of een of twee walvisse het dalk die spoor byster geraak en die res van hulle het gevolg, het Carlyon gesê.

“Dis hoogs waarskynlik dat hierdie eintlik een voorval van ʼn groot groep is. Dit sou in die see ʼn baie groot groep gewees het.”

Vanessa Pirotta, ʼn mariene wetenskaplike, sê daar is verskeie redes hoekom walvisse strand – en dit sluit navigasiefoute in.

“Hulle het ʼn baie sterk sosiale stelsel. Die diere is baie na aan mekaar en dit is hoekom ons in hierdie geval ongelukkig soveel van hulle in dié situasie sien,” sê Pirotta.

Reddingspogings is ook nie altyd suksesvol nie, omdat die walvisse wat gered word na die res van die groep probeer terugkeer. Hulle hoor moontlik die geluide wat die ander walvisse maak, of is heeltemal gedisoriënteerd. In hierdie geval is die walvisse waarskynlik uiters gestres en moontlik so moeg dat hulle in sommige gevalle glad nie weet waar hulle is nie, sê sy.

In 2017 het meer as 600 loodswalvisse op Nieu-Seeland se Suideiland uitgespoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariana

Dis hartseer. Maar miskien is dit die natuur se manier om minder te maak. Ons oseane is besmet en bevuil deur die mens se gemors.

Phillip

Dalk is daar nie meer kos oor nie weens besoedling en besmette water van rihool wat in die see in loop

Faruk

Hulle is seker ook al gatvol vir hierdie planeet en sy moeilikheid