Meer as 500 beseer in brand by konsert

Foto: ETTV via AP

Foto: ETTV via AP

Meer as 500 mense is beseer, waaronder agt kritiek, nadat ʼn brand tydens ʼn konsert by ʼn waterpretpark in Taipei, Taiwan uitgebreek het.

Die brand het ontstaan nadat ʼn gekleurde poeier wat voor die skare gegooi is, ontplof het, aldus plaaslike mediaberigte.

Wang Wei-sheng, ʼn woordvoerder van die Taipei-brandweer, het gesê die poeier het verder op die grond bly brand en mense het brandwonde aan hul bene en onderlywe opgedoen. Volgens Wang het 516 mense brandwonde opgedoen.

Volgens die Taiwan Central News Agency is agt mense kritiek beseer. ʼn 18-jarige meisie van Taiwan het brandwonde aan 90% van haar lyf opgedoen. Die organiseerder van die konsert, sowel as werkers by die park word intussen ondervra oor die vlambare poeier wat tydens die konsert van die verhoog af gegooi is.

Die presiese oorsaak van die brand word egter nog ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Die mense is volgens nuusberigte vervoer na 39 hospitale in die omgewing.
Wonder net by ons hoé vêr wyd jy sal moet gaan vir hospitale wat nog ordentlik funksioneer ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.