Meer as 60 dood in aanval by Moskou-konsert; VSA waarsku oor ‘terreuraanval’

Rook borrel uit die Crocus City-konsertsaal in Moskou. Meer as 100 mense het in die aanval gesterf. (Foto: AFP)

Meer as 60 mense is dood en meer as 100 gewond toe gewapende mans losgebrand het op konsertgangers in Moskou. Die aanval het ook ʼn reusebrand tot gevolg gehad, met die Islamitiese Staat (IS) wat reeds verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar het.

Aanvallers geklee in kamoefleerdrag het die gebou Vrydag binnegegaan, losgebrand en daarna ʼn granaat of brandbom gegooi, het ʼn joernalis van die RIA Novosti-nuusagentskap op die toneel gesê.

Die brand het blitsig deur die Crocus City-konsertsaal in Moskou se noordelik Krasnogorsk-buurt versprei. Rook het die gebou gevul en gillende konsertgangers het na die nooduitgange gestorm.

Alexei, ʼn musiekvervaardiger, was net op pad om te gaan sit voor die aanvang van die rockkonsert, toe hy geweervuur en gille gehoor het.

“Ek het dadelik besef dit is outomatiese geweervuur en het besef dat dit waarskynlik die ergste is: ʼn terreuraanval,” het Alexei, wat nie sy van wou verskaf nie, gesê.

Terwyl mense na die nooduitgange gestorm het, was daar ʼn “verskriklike samedromming” terwyl konsertgangers oor mekaar geklouter het om uit te kom, sê hy.

Rusland se ondersoekkomitee het Saterdag gesê meer as 60 mense is dood, ʼn aanpassing van die vorige sterftesyfer van 40, luidens Russiese nuusagentskappe.

Mikhail Murashko, Rusland se minister van gesondheid, sê 115 mense is in hospitale opgeneem, ook vyf kinders. Een van hulle is in ʼn bedenklike toestand. Van die 110 volwasse pasiënte is 60 in ʼn ernstige toestand.

Die owerhede sê ʼn “terreurondersoek” is van stapel gestuur. Pres. Wladimir Poetin ontvang “deurlopend” inligting oor die situasie, het sy woordvoerder, Dmitry Peskov, aan Russiese media gesê.

Rusland se nasionale wag sê hy is op die toneel en op soek na die aanvallers. ʼn AFP-verslaggewer het polisiebeamptes met snuffelhonde opgemerk waar hulle voertuie langs die gebou deursoek het.

IS sê sy vegters het mense by ʼn “groot byeenkoms” aan die buitewyke van Moskou aangeval en daarna “veilig na hul basisse teruggekeer”.

Brand in bedwang

‘n Wetstoepassingsbeampte staan wag buite die brandend konsertsaal. (Foto: Olga Maltseva/AFP)

Telegram-nuuskanale Baza en Mash, wat na aan die veiligheidsmagte is, het beeldmateriaal gewys van vlamme en swart rook wat uit die saal borrel.

Ander beelde het konsertgangers gewys waar hulle agter stoele skuil of probeer ontsnap.

Veiligheidmagte wat deur Interfax aangehaal word, sê twee en dalk soveel as vyf mense in “taktiese uniforms en met outomatiese wapens” het op die wagte by die ingange losgebrand en toe op die gehoor begin vuur.

ʼn Ooggetuie het aan AFP gesê dit was enkele minute voor die aanvang van die Piknik-konsert toe die geluid van outomatiese geweervuur begin opklink het.

Sowat 100 mense het deur die konsertsaal se kelder ontsnap, het die departement van nooddienste op sy Telegram-kanaal gesê.

Drie helikopters is gebruik om die vlamme te blus en water te stort oor die konsertsaal wat duisende mense kan huisves. Konserte deur verkeie internasionale kunstenaars is al voorheen in die konsertsaal aangebied.

Kort ná middernag het die nooddienste gesê die brand is in bedwang gebring. Die goewerneur van Moskou, Andrey Vorobyov, het later gesê die vlamme is “grootliks geblus” en reddingswerkers kon die ouditorium binnegaan.

Poetin, wat volgens die Kremlin binne minute oor die aanval ingelig is, het die slagoffers ʼn spoedige herstel toegewens, het Tatyana Golikova, Rusland se adjunk- eerste minister, gesê.

Poetin het nog nie in die openbaar kommentaar oor die aanval gelewer nie.

‘Afskuwelike misdaad’

Maria Zakharova, woordvoerder van Rusland se departement van buitelandse sake, het die voorval ʼn “bloedige terreuraanval” genoem.

“Die hele internasionale gemeenskap moet hierdie afskuwelike misdaad verwerp,” het sy op Telegram gesê.

Die Amerikaanse presidensie het die aanval as “verskriklik” bestempel en gesê daar was geen onmiddellike aanduiding van ʼn verband met die konflik in Oekraïne nie.

Oekraïne se presidensie het gesê Kiëf het “niks” met die aanval te doen gehad nie, terwyl sy militêre intelligensie die voorval as Russiese “uitlokking” bestempel en aangevoer het Russiese spesiale magte is daarvoor verantwoordelik.

Die Verenigde Nasies (VN), Europese Unie (EU), Frankryk, Spanje, Italië en verskeie ander lande het ook die aanval veroordeel.

Die Withuis het gesê sy “gedagtes is by die slagoffers van hierdie verskriklike skietvoorval”, terwyl Frankryk se president Emmanuel Macron ook sy “solidariteit met die slagoffers, hul geliefdes en al die Russiese mense” te kenne gegee het.

Vorige waarskuwings

Moskou en ander Russiese stede was vantevore al die teiken van Islamitiese groepe, maar daar was ook al voorvalle sonder enige duidelike politieke motief.

Vroeër vandeesmaand het die Amerikaanse ambassade in Rusland gesê hy monitor berigte dat “ekstremiste” beplan “om groot byeenkomste in Moskou te teiken”, ook konserte.

Die Withuis het Vrydag gesê die VSA het Russiese owerhede gewaarsku oor ʼn “beoogde terreuraanval”, wat moontlik “groot byeenkomste” in Moskou kan teiken. Washington het die “inligting met Russiese owerhede gedeel”, het die woordvoerder van die nasionale veiligheidsraad, Adrienne Watson, gesê.

In 2002, het Tsjetsjniese separatistevegters altesame 912 mense by ʼn Moskouse konsertsaal, die Dubrovka, as gyselaars geneem en geëis dat Russiese troepe hulle aan die streek onttrek.

Spesiale magte het die saal binnegestorm om die gyselaars te ontset en 130 mense is uiteindelik dood. Byna almal het versmoor weens die gas wat die veiligheidsmagte gebruik het om die gewapende aanvallers uit te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.