Meer as helfte van passasiers op boot verdrink

Daar was 74 mense op die boot (Foto: Pixabay)

Meer as 40 mense het vermoedelik verdrink toe ʼn boot Sondag aan die Ooskus van Mosambiek gesink het.

Issa Tarmamade, die distriksadministrateur van die eiland Ibo, sê die boot het in die Indiese Oseaan tussen die eilande Ibo en Matemo, noord van Pemba in Mosambiek, gesink.

Nagenoeg 400 000 inwoners in Cabo Delgado, die noordelikste provinsie van Mosambiek, het reeds uit dié gebied gevlug wat deur ʼn Islamitiese rebellie met geweld geteister word.

Daar was 74 mense op die boot. “Altesaam 32 van die 74 passasiers is deur ʼn verbygaande seilboot gered. Die res is vermoedelik dood,” sê Tarmamade. “ʼn Paar passasiers se liggame het reeds op die eiland Ibo uitgespoel, insluitend dié van ʼn kind.”

Tarmamade sê die gebied waar die boot gesink het, word gefynkam. “Ons verwag dat nog liggame gevind gaan word.”

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie, maar Tarmamade sê die boot was dalk oorlaai met passasiers en hul besittings.

Die Islamitiese rebellegroep het vanjaar die omvang en frekwensie van sy aanvalle verhoog, wat daartoe gelei het dat hy regeringsmagte terugdryf om beheer te neem van ʼn aantal belangrike dorpe in die gebied.

Duisende mense het binne enkele dae in Oktober op Pemba se strande aangekom om uit die geweldgeteisterde gebiede te vlug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sandra

Dis verskriklik tragies. Die situasie moet so sleg wees dat die mense bo alles net wou wegkom.

andre

Die sukses van n islamietiese rebellegroep teen regeringsmagte is kommerwekkend

Pieter J

Dit is ongelukkig wat gebeur as ń land ń onbevoegde regering het. SA is sterk op pad daarheen.