Meer as R11 miljoen vir ‘stukkende’ kitaar

Kurt Cobain se stukkende Fender Stratocaster op uitstalling by Julien’s Auctions (2 Mei 2023) (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

ʼn Kitaar wat deur Nirvana se Kurt Cobain op die verhoog stukkend geslaan is, is vir byna $600 000 (meer as R11,5 miljoen) verkoop. Dit is baie meer as wat aanvanklik verwag is, het afslaers Saterdag gesê.

Die stukkende Fender Stratocaster is weer aanmekaar gesit, maar kan nie meer bespeel word nie, het Kody Frederick van Julien’s Auctions vroeër vandeesmaand aan AFP gesê.

Die kitaar is onderteken deur al drie lede van die grunge-groep uit Seattle toe hulle wêreldwyd roem verwerf het.

Die afslaers het verwag dat die kitaar vir sowat $60 000 sou verkoop tydens die geleentheid voor ʼn regstreekse gehoor by die Hard Rock Cafe in New York.

Die bod is egter toegeslaan op $595 000, het Julien’s in ʼn verklaring gesê en dit as “verstommend” beskryf.

“Kurt Cobain, wanneer hy op die verhoog was en wanneer hy gespeel het, was ʼn masjien,” het Frederick vroeër in Mei aan AFP gesê. “Die man was woedend, en mens kon dit op die verhoog aanvoel. En mens kon dit voel in die manier hoe hy sy instrumente hanteer het. Hierdie gebreekte element, op ʼn vreemde manier, van hierdie gebroke musikant, definieer werklik hierdie onstuimige, wilde era van musiek.”

Kurt Cobain se stukkende Fender Stratocaster op uitstalling by Julien’s Auctions (2 Mei 2023) (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

Nirvana se treffers, waarvan talle deur Cobain geskryf is, sluit in “Come As You Are”, “Lithium” en die 1991-treffer “Smells Like Teen Spirit” – ʼn liedjie wat ʼn tipe volkslied geword het vir ʼn generasie van vervreemde tieners.

Cobaine het aan verslawing en depressie gely en het ʼn onstuimige verhouding gehad met sy vrou Courtney Love. Hy het in April 1994 sy eie lewe geneem.

Die drie dag lange veiling het memorabilia ingesluit uit die loopbane van Eddie Van Halen, Elvis Presley, Freddie Mercury, Bill Wyman en Janet Jackson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Die Goodwoodianer ·

Legendariese musikant. Raai maar wat ek gaan luister oppad huistoe vandag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.