Meer as R230 miljoen vir Van Gogh-skildery

Straattoneel in Montmartre deur Vincent van Gogh (Foto: Sotheby’s-afslaers)

Een van die paar skilderye van Vincent van Gogh wat nog in privaat besit is, is Donderdag vir meer as €13 miljoen (meer as R230 miljoen) op ʼn Sotheby’s-veiling verkoop.

“Straattoneel in Montmartre” (Scene de rue a Montmartre) was vir die eerste keer vir die publiek te sien sedert dit in 1887 geskep is, het die afslaer gesê. Dit het €13,09 miljoen (sowat R231,75 miljoen) op die veiling gehaal. Die verwagting was dat die skildery tussen €5 miljoen en €8 miljoen sou haal. Die verkoopprys is ʼn rekord vir die kunstenaar in Frankryk.

“Straattoneel in Montmartre”, een van meer as 200 skilderye wat die Nederlandse post-impressionistiese kunstenaar tydens sy verblyf twee jaar in Parys geskilder het, beeld een van die windmeule in Montmartre uit toe dit net ʼn dorpie aan die noordelike buitewyke van die hoofstad was. ʼn Paartjie en twee kinders is te sien met blaarlose bome in die kenmerkende bruin kleure van sy “Nederlandse palet”, met ʼn helderrooi vlag wat bo die windmeul wapper.

Die periode was ʼn keerpunt in Van Gogh se loopbaan toe hy met ekspressionistiese tegnieke en nuwe kleure begin rondspeel het in die finale jare van sy lewe voor sy selfmoord in 1890 in die ouderdom van 37.

Dit word nie as een van sy beste werke beskou nie.

Kenners was bewus van die werk, maar dit is in die katalogus slegs met ʼn swart-en-wit foto aangedui met besonderhede dat ʼn Franse gesin dit in 1920 aangeskaf het. Dit was hierdie week vir die eerste keer in die publiek te sien.

“Skilderye uit die Montmartre-reeks is baie seldsaam,” het Aurelie Vandevoorde, Sotheby’s se hoof van impressionistiese en moderne kuns in Parys, voor die veiling aan AFP gesê.

Die identiteit van die koper is nie bekendgemaak nie. Claudia Mercier, ʼn afslaer by Mirabaud Mercier-afslaers wat deur die skildery se eienaars aangestel is, het gesê die Van Gogh-museum in Amsterdam het dit ondersoek en “ernstige belangstelling getoon”.

Die skildery was die hoogtepunt van ʼn regstreekse aanlyn veiling van 33 werke van die meesters soos Degas, Magritte, Modigliani, Klee, Rodin en sy muse Camille Claudel. Sotheby’s het die veiling uit Parys aangebied.

Die skildery is aan die einde van die veiling weer aangebied, omdat die afslaer sy oorspronklike transaksie moes skrap weens probleme met aanlyn bieëry.

Ander hoogtepunte uit die veiling sluit in die verkope van ʼn werk deur Camille Pissarro wat onlangs gerestoureer is. “La Récolte des pois” is vir €3,38 miljoen verkoop.

Francis Picabia se “La corrida” het €3,15 miljoen gehaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yolande ·

So hartseer dat die kunstenaar nie enige van sy roem of die geld hieruit kon geniet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.