Meer as vyf miljoen vlug reeds uit Oekraïne

Oekraïense vlugtelinge in ‘n gimnasium in Meksiko.
(Foto: Patrick T. FALLON / AFP)

Meer as vyf miljoen mense het nou reeds uit die oorloggeteisterde Oekraïne gevlug.

Dié syfer is Vrydag deur die Verenigde Nasies se Vlugtelingagentskap (VNHKV) bekendgemaak.

Volgens die VNHKV het 4 896 245 Oekraïners oor landsgrense gevlug, terwyl die VN se Internasionale Organisasie vir Immigrasie aandui dat nagenoeg 215 000 derdelandburgers na buurlande ontsnap het. Dié uittog is die snelgroeiendste vlugtelingkrisis sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Maroela Media het vroeër berig dat altesaam 90% van vlugtelinge vroue en kinders is, aangesien mans tussen 18 en 60 jaar opgeroep is om oorlog te voer. Die VN skat boonop dat ʼn bykomende 7,1 miljoen mense uit hul huise gevlug het, maar steeds in Oekraïne is.

Dit beteken dat meer as ʼn kwart van die algehele Oekraïense bevolking tot dusver genoop was om hul huise te verlaat sedert Rusland dié land in Februarie ingeval het.

Die meeste van dié vlugtelinge (60%) het die grens na Pole oorgesteek.

Voor Rusland Oekraïne ingeval het, het dié land ʼn bevolking van 37 miljoen in staatsbeheerde streke gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.