Meer bekend oor rocker se dood

Taylor Hawkins (Foto: AFP)

Voorlopige toksikologiese toetse het bevind dat die Foo Fighters se tromspeler, Taylor Hawkins, voor sy dood dagga, opioïede en ander dwelms in sy stelsel gehad het.

Hawkins is Vrydag in ’n hotel in Bogota in Colombia dood kort voordat die rockgroep by die Festival Estereo Picnic aan die buitewyke van die stad sou optree.

Hawkins was 50 jaar oud.

Colombiaanse ondersoekers sê voorlopige nadoodse toetse het verskeie dwelms in die tromspeler se stelsel gevind. Die ondersoekers het egter nie gespesifiseer of die mengsel van middels sy dood veroorsaak het nie.

“Die urinetoksikologiese toetse wat op Taylor Hawkins se liggaam uitgevoer is, het voorlopig 10 soorte middels geïdentifiseer, waaronder tetrahidrokannabinol (THC) – wat in dagga voorkom – trisikliese antidepressante, bensodiasepiene en opioïede,” lui ’n verklaring deur die ondersoekers.

Forensiese dokters is besig om die presiese oorsaak van Hawkins se dood vas te stel.

Die Foo Fighters (Foto: Facebook/ Foo Fighters)

Die burgemeester van Bogota se kantoor het gesê daar is laat Vrydagaand ’n noodoproep ontvang oor ’n “pasiënt wat oor borspyn kla”.

’n Dokter het die “onderskeie resussitasie-maneuvers uitgevoer, maar daar was geen reaksie nie en die pasiënt is dood verklaar”.

“Die Foo Fighters-familie is platgeslaan deur die tragiese en ontydige verlies van ons geliefde Taylor Hawkins,” het die groep ná sy dood op Twitter gesê. “Sy musikale gees en aansteeklike lag sal ons ewig bybly.”

Die groep se optrede by die Festival Estereo Picnic is intussen gekanselleer.

Maroela Media het vroeër berig Hawkins was sedert 1997 ʼn lid van Foo Fighters nadat die hoofsanger en voormalige tromspeler van Nirvana, Dave Grohl, hom raakgesien het. Dit was sy slag met die tromme wat gehelp het om liedjies soos “Learn to Fly” en “Best of You” treffers te maak.

Hawkins was voorheen tromspeler vir die Kanadese indie-liedjiester Alanis Morissette.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Deonne ·

Wat gaan aan? eers Shane Warne op 52 en nou Taylor Hawkins op 50 en dit blyk nou asof altwee dwelm verwant is. Ek en my vrou het die voorreg gehad om Foo Fighters in 2014 by FNB stadium in JHB te sien en ek moet se met Dave Grohl as die hoofman en Taylor op tromme was dit een van die mees energieke konserte ooit. Ongelukkig is dwelms baie rocksterre se einde. Hy gaan gemis word..

Pieter9 ·

Shane Warne se dood het niks met dwelms te doen gehad nie.
Dwelms/alkohol is egter wel die oorsaak van die meeste onnatuurlike sterftes onder die sogenaamnde ‘sterre’ van die lewe.

Realis Thailand ·

Ek het geen simpatie vir die vent se dood nie
Hy was n dwelm gebruiker en het geweet wat die gevolge kan wees en so ook sy familie wat moes geweet het van sy verbruik.
Het ook nog nooit van die klomp “musikante gehoor nie.
Dit is nou my vierde probeerslag om kommentaar te lewer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.