Meer brande in Amasone dui op krisis

sao-paulo-rookwolke

Een van die foto’s van Sao Paulo wat in ‘n rookmis vroeër hierdie week gehul is, wat op sosialemediaplatforms gedeel is. Foto: @ch1minssi/Twitter.com

Die brande wat tans in die Amasone-reënwoude woed het nie net vanjaar met ʼn rekordgetal toegeneem nie, maar word ook uitgewys as die oorsaak van ʼn vreemde weerverskynsel in verskeie streke duisende kilometer weg van dié brande.

São Paulo, Brasilië se grootste stad, was Maandag helder oordag in digte rookmis gehul. Volgens wetenskaplikes het sterk wind die rookwolke van die brande in die Amasone-streek meer as 2 700 km ver gewaai. Dit het die “mis” veroorsaak wat die stad die middag ʼn uur lank in die donker gelaat het.

Brasilië se ruimtenavorsingsentrum (INPE) sê die soort brande het met sowat 82% toegeneem van Januarie tot Augustus vanjaar in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar. Die INPE het 74 155 brande opgeteken in die land in die eerste agt maande van 2019 nadat daar in 2016 sowat 67 790 brande tydens ʼn droogte in dieselfde streek gewoed het.

Die brande kan vanuit die ruimte gesien word en Nasa, die Amerikaanse ruimte-organisasie, het dié week ook satellietbeelde van die brande op sosiale media gedeel.

NBCnews.com het berig die Amasone-omgewingnavorsingsinstituut (IPAM), ʼn nieregeringsorganisasie wat op die volhoubare ontwikkeling van die Amasone fokus, koppel die skerp toename in bosbrande aan die ontbossing van die reënwoud.

Die organisasie het Dinsdag in ʼn artikel gesê dit is ʼn algemene maar onwettige praktyk om vuur te gebruik om die reënwoude ontbos vir veral landbouaktiwiteite.

Terwyl sommige kenners meen dat natuurlike brande algemeen is in ʼn droër seisoen, soos wat dié streek tans beleef, het IPAM gesê daar is nie iets soos natuurlike bosbrande in die Amasone nie. Die organisasie stem egter saam dat ʼn droë seisoen die situasie vererger.

amasone-bosbrand-01

Hierdie satellietbeeld wat Nasa op 13 Augustus 2019 geplaas het wat verskeie brande in die Amasone wys. Foto: Nasa/AP/ANA.

Kommer oor Brasilië se omgewingsbeleid

Talle omgewingsorganisasies en aktiviste het intussen hul kommer oor pres. Jair Bolsonaro se omgewingsbeleid uitgespreek. Hulle het uitgewys dat die rekordgetal bosbrande sedert sy bewindsoorname in Januarie voorgekom het.

Bolsonaro het al gesê hy slaan geen ag op die internasionale vrees oor die toenemende ontbossing in die gebied nie en meen die Amasone moet vir boerdery en mynwese ontwikkel word.

Bolsonaro, wat al vroeër gedreig het om die Paryse klimaatooreenkoms te verlaat, het al by geleentheid niewinsgewende organisasies aangeval wat omgewingsake op die hart dra. Hy beskou hulle as hindernisse in sy strewe om die land se volle ekonomiese potensiaal te ontwikkel.

Hy het Donderdagoggend (plaaslike tyd) weer na dié organisasies gekap en aangevoer dat hulle self die reënwoude sal afbrand om hom en sy regering in ʼn slegte lig te stel.

Bolsonaro het egter erken hy het nie bewyse vir sy aantygings nie, maar verder gesê die wêreld voer ʼn inligtingsoorlog teen Brasilië.

Vroeër vandeesmaand is die hoof van die INPE ook van sy pos te onthef nadat hy die president daarvan beskuldig het dat data oor die ontbossing van die Amasone gemanipuleer word om die regering se beeld te poets.

Bolsonaro word wyd in twiets op Twitter met die hutsmerk #prayforamazonia veroordeel.

amasone-bosbrand-03

Betogers swaai plakkate in protes by die VN se werkswinkel oor klimaatsverandering. Foto: AP/Arisson Marinho/ANA.

Gevangenes van ekstreme klimaatverskynsels

Intussen meen kenners dat Brasiliane, en veral boere, die eerste slagoffers van buitensporige ontbossing in die Amasone kan wees, omdat dit die plaaslike klimaat kan beïnvloed, wat hoër temperature en minder reën kan meebring.

Ricardo Salles, die Brasiliaanse minister van omgewingsake, is juis Woensdag uitgejou toe hy ʼn toespraak gelewer het tydens werksessies van vyf dae van die Verenigde Nasies wat handel oor klimaatsverandering in die noordelike deelstaat Bahia in Brasilië. Dit is ’n geleentheid wat hy vroeër vanjaar probeer kanselleer het.

Sommige in die gehoor het geskree terwyl hulle met plakkate met slagspreuke soos “Stop Ecocide” of “The Amazon is burning” rondgeswaai het.

Bolsonaro en Salles het glo hegte bande met die kragtige landelike koukus in dié land se kongres. Hulle meen ook albei ontwikkeling in die Amasone-streek word verhoed deur onnodige streng wetgewing wat die streek beskerm.

Salles het egter vlugtig tydens die geleentheid gepraat en gesê aardverwarming moet aandag kry.

amasone-bosbrand-02

‘n Hommeltuig het hierdie foto geneem waar ‘n bosbrand op 20 Augustus in die Mato Grosso-staat in Brasilië woed. Foto: Corpo de Bombeiros de Mato Grosso/AP/ANA.

“Mense vra meer en meer optrede om klimaatsverandering te voorkom. Daar is ’n groter erkenning dat ons in ’n situasie van krisis en nood verkeer,” het Manuel Pulgar Vidal, voormalige minister van omgewingsake in Peru, gesê, wat ook die geleentheid bygewoon het.

Vidal, wat nou vir die niewinsgewende organisasie WWF werk, het gesê die kritiek wat op Salles gerig is kan uiteindelik die administrasie aanmoedig om teen klimaatsverandering op te tree. “Daar is geen ruimte vir ontkenning van dié probleem nie,” het Vidal gesê.

Die Amasone-reënwoude wat 2,12 miljoen vierkante myl beslaan, suig jaarliks ongeveer ʼn kwart van die 2,4 miljard ton koolstof op wat vrygestel word. Kenners meen egter reënwoude se vermoë om koolstof uit die lug te onttrek neem jaarliks af omdat ontbossing toeneem en bome wat vrek nie vervang word nie.

Hierdie afname van bome lui tot aardverwarming wat ekstreme weerpatrone soos erge droogtes in sekere streke tot gevolg het.

Verder het navorsing getoon die ontbossing van die Amazone bedreig in die beste moontlike scenario reeds meer as die helfte van die reënwoude se boomspesies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet ·

Lyk my dis ‘n Brics ding. Land se bronne en natuurlike plantegroei, alles word gestroop vir politieke en geldelike gewin. Maar dieselfde wat hier aangaan – natuurlike verskynsel onder kommunisme. Baie na aan Animal Farm..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.