Meer mense kan nou na Australië emigreer

Sydney, Australië. (Foto: Caleb Russel / Unsplash)

Australië se minister van binnelandse sake, Clare O’Neil, het Vrydag op Twitter ’n uitnodiging aan vaardige mense wêreldwyd gerig om na dié land te emigreer en ’n Australiër te word.

Haar inskrywing op Twitter volg kort nadat O’Neil by ʼn beraad oor werk en vaardighede aangekondig het dat die land 35 000 meer immigrante onder sy permanente immigrasieprogram sal inneem en visums vir buitelandse werkers bespoedig om gapings in die arbeidsmark te vul.

Australië sal nou sy immigrasielimiet van 160 000 tot ʼn rekord 195 000 plekke verhoog, waarvan 4 700 werksgeleenthede vir gesondheidwerkers is.

“Ons wil hê die beste en slimste mense van regoor die wêreld moet hier woon – en ons wil hulle nooi om Australiërs te word,” het O’Neil op Twitter gesê. Die land mik nou na ʼn immigrasiestelsel wat “geskik is vir die 21ste eeu” en die land kan “help om te floreer”.

“Ons het ʼn werklike en eenmalige kans om dit reg te kry.”

In nog ʼn twiet sê O’Neil dat hulle nie kan toelaat dat Australië agterraak nie.

“Immigrasie het Australië gebou, en ons het dit nodig om ons nasie te herbou om die uitdagings te hanteer wat die volgende dekades na ons kant toe slinger.”

O’Neil het in haar toespraak spesifiek gepraat oor die rol wat kundige immigrante kan speel om die ernstige tekort aan vaardighede in die land te takel.

“Australië se [huidige] migrasiestelsel voldoen nie aan ons behoeftes nie. En ek dink ons ​​moet dit verander, want die komende 30 jaar sal vir Australië baie anders lyk as die afgelope 30 jaar,” het sy tydens Vrydag se beraad gesê.

Sy meen Australië moet nou wegbeweeg van ʼn stelsel wat amper heeltemal daarop gefokus is om mense uit te hou, na een wat erken dat “ons in ʼn wêreldwye oorlog vir talent is”.

BBC berig dat die Covid-19-pandemie en Australië se streng grensbeleid die tekort aan personeel in verskeie sektore vererger het. Luidens die berig het Australië tans 480 000 werksgeleenthede landwyd beskikbaar.

Met die land se werkloosheidsyfer wat byna die laagste in 50 jaar is, sukkel werkgewers om gapings in die arbeidsmark te vul. Die gasvryheid- en handelsbedryf en die gesondheid- en landbousektore is veral hard getref.

O’Neil het Vrydag verder gesê dat werkstekorte onder meer chaos by lughawens veroorsaak, vrugte aan bome laat vrot en uiters hoë druk op die gesondheidsorgstelsel plaas.

“Ons fokus is altyd werk vir Australiërs eerste… maar die impak van Covid-19 was so erg dat selfs as ons elke ander moontlikheid uitput, ons steeds ʼn tekort aan duisende werkers sal hê, ten minste op kort termyn.”

Permanente immigrasie het tussen 2010 en 2016 tot ongeveer 190 000 per jaar gestyg, voordat dit in 2017 gedaal het, aangesien immigrasie die middelpunt van ʼn politieke debat geword het. Ondanks die afname in immigrasie het meer as ʼn miljoen mense sedert 2016 na Australië geemigreer.

BBC berig Australië se bevolkingsopname het boonop vir die eerste keer onthul dat meer as die helfte van die bevolking in die buiteland gebore is, of ’n ouer het wat oorsee gebore is.

Die regering beloof nou om miljoene dollar beskikbaar te stel om bykomende personeel aan te stel om die groot agterstand in visums vir buitelandse werkers in te haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Die feit dat daar meer werksgeleenthede as werkers is, is n konsep wat ons hier in SA nie sal kan verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.