Meer oor Avicii se dood bekend

Tim Bergling, oftewel Avicii. Foto: @Avicii / Twitter

Die gewilde Sweedse platejoggie en musiekvervaardiger Tim Bergling, oftewel Avicii, se familie het in ’n verklaring gesê “hy kon nie langer aangaan nie”.

Bergling is verlede week dood in Muscat in Oman aangetref. Hy was 28 jaar oud. Geen besonderhede oor sy dood is bekend gemaak nie.

Sy familie sinspeel egter in die verklaring daarop dat Bergling sy eie lewe geneem het. Volgens die familie was hul “geliefde Tim iemand wat aanhou soek het, ’n brose artistieke siel wat na antwoorde op eksistensiële vrae gesoek het”.

Avicii het in 2016 ophou toer. Volgens sy familie wou hy balans in sy lewe vind, gelukkig wees en doen waarvoor hy die liefste was, naamlik musiek maak. “Ons seun is nie gemaak vir die bedryf waarin hy homself bevind het nie. Hy was ’n sensitiewe ou wat lief was vir sy ondersteuners, maar die kollig vermy het.”

Volgens berigte in die Sweedse media het die polisie in Oman twee nadoodse ondersoeke op Bergling se liggaam uitgevoer. Die ondersoeke het niks verdags aan die lig gebring nie en enige gemene spel uitgeskakel.

Avicii se familie het intussen ook sy ondersteuners bedank vir hul ondersteuning ná sy dood. “Ons wil julle graag bedank vir die ondersteuning en mooi woorde oor ons seun en broer. Ons is so dankbaar vir almal wat lief was vir Tim se musiek en kosbare herinneringe het van sy liedjies.”

Avicii was ’n internasionale musiekster en het sy bekende elektroniese dansliedjies vir derduisende mense op ’n slag opgevoer by musiekfeeste. “Wake Me Up” is een van sy groot treffers.

Bergling is in 2016 met akute pankreatitis gediagnoseer, gedeeltelik as gevolg van oormatige alkoholverbruik. Hy het in 2014 sy galblaas en blindederm verwyder en moes ʼn reeks konserte kanselleer om te herstel. Hy het tot onlangs toe nog musiek in sy ateljee vervaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Verstaan? ·

Verstaan? Begryp? Ons verstaan ten dele mekaar maar sal ons ooit die diepste van alle dieptes van elkander kan peil? Wees dus versigtig met uitsprake oor iemand veral waar die mens homself verheug in soetsappige negatiewe opmerkings waarvoor ons uitmuntend ‘gebou’ is.

Reguit ·

Hy was talentvol. Hy is dood. Mense neem nie hulle eie lewens omdat dit ‘maklik’ of ‘lekker’ is nie. Inteendeel. Hy het sy prys self betaal. Dit is ‘n tragiese geval. Moenie die arme ou veroordeel nie. Die lewe is baie meer gekompliseerd as dit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.