Meer verslaggewers sterf in 2018

Foto ter illustrasie: Pixabay

Verslaggewers sonder Grense (RSF) sê meer joernaliste is tot dusver vanjaar doodgemaak en gevange geneem as verlede jaar.

Dié groep, wat hom vir mediavryheid beywer, sê van 1 Januarie tot 1 Desember vanjaar is 63 verslaggewers en vier mediawerkers dood in die uitvoering van hul pligte, vergeleke met 55 beroepsverslaggewers in die ooreenstemmende tydperk in 2017.

Nog 13 mense wat RSF beskryf as “nieprofessionele verslaggewers” – mense wat nie amptelike mediakaarte het nie, maar wat betrokke is by die invordering en verspreiding van nuus en inligting – is ook dood, terwyl 348 wêreldwyd aangehou is of steeds in aanhouding verkeer.

“Nieprofessionele joernaliste speel ʼn fundamentele rol in die vervaardiging van nuus en inligting in lande met onderdrukkende regerings en dié waar oorlog gevoer word en dit moeilik is vir beroepsjoernaliste om te werk,” sê RSF in ʼn verslag.

Van die altesaam 80 mense wat dood is, is 49 volgens die organisasie se berekenings doelbewus geteiken “omdat hul verslaggewing die belange van sekere groepe in posisies van politieke, ekonomiese of godsdienstige mag of georganiseerde misdaad bedreig het”.

Die orige 31 is dood terwyl hulle verslag gedoen het, het RSF gesê, en bygevoeg hulle ondersoek nog 10 sterfgevalle om te bepaal of dit met joernalistiek verband gehou het.

In 2018 was die dodelikste land vir joernaliste Afghanistan, waar 15 in gewelddadige voorvalle soos bomaanvalle gesterf het. Sirië is in die tweede plek met 11 sterftes en Mexiko in die derde plek met nege lewensverliese.

Amerika haal vanjaar vir die heel eerste keer die topvyf plekke van dodelikste lande vir verslaggewers nadat ses daar gesterf het, onder wie vier van die vyf mense wat dood is toe ʼn man in die kantoor van die koerant Capital Gazette in die deelstaat Maryland losgebrand het. Nog twee is dood terwyl hulle oor uiterste weersomstandighede berig het.

ʼn Ligpunt is Irak, waar in die eerste 11 maande van 2018 geen sterfgevalle onder joernaliste aangemeld is nie. Dis die eerste keer sedert 2003.

Volgens syfers tot RSF se beskikking is China die land wat die meeste verslaggewers aanhou, naamlik 60, van wie 46 “nieprofessionele joernaliste” is “wat probeer vergoed het vir die Kommunistiese Party se toenemend streng beheer oor die tradisionele media”. Tien van dié aangehoudenes loop gevaar om in aanhouding te sterf.

Wat beroepsjoernaliste betref, het Turkye in 2018 die meeste aangehou. Van die 179 wat wêreldwyd in die gevangenis is, is 33 in Turkse tronke. In Egipte is 30 van die 38 aangehoudenes nog verhoorafwagtend, onder wie een joernalis wat al drie jaar in die gevangenis sit sonder dat hy amptelik aangekla is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.