Meer vrae as antwoorde jaar ná Beiroet-ontploffing

Die Beiroet-hawe na verlede jaar se reuseontploffing. (Foto: AFP)

’n Jaar nadat ’n massiewe ontploffing die Beiroet-hawe in Libanon geruk het, blyk dit dat daar steeds meer vrae as antwoorde is.

Niemand is nog in verband met dié voorval vervolg nie en Libanese owerhede word daarvan beskuldig dat hulle die ondersoek “skaamteloos belemmer”.

Só het die menseregteorganisasie Amnestie Internasionaal Maandag in ’n verklaring gesê.

Die ontploffing wat veroorsaak is deur tonne ammoniumnitraat wat jare lank verkeerd geberg was, het die lewe van meer as 200 mense geëis.

Vrae oor hoe só ’n enorme vrag, glo meer as 2 750 ton, hoogs plofbare materiale bloot gestoor kon word en wat presies tot die brand gelei het, is ook nog nie deur die owerhede beantwoord nie.

“Libanese owerhede het slagoffers se soeke na waarheid en geregtigheid die afgelope jaar skaamteloos belemmer,” sê die organisasie.

Die ontploffing word wyd toegeskryf aan nalatigheid en korrupsie deur die Libanese regering.

Maroela Media het vroeër berig dat Libanon se eerste minister, Hassan Diab, kort ná die ontploffing bedank het.

Diab het gesê dat hy tot die gevolgtrekking gekom het dat korrupsie in die land “groter is as die staat”.

Verskeie betogings teen die regering oor korrupsie, onbevoegdheid en wanbestuur het ook sy bedanking voorafgegaan.

Die eerste regter wat getaak was om ondersoek na die ontploffing in te stel is boonop deur die owerhede afgedank nadat topamptenare vir ondervraging geroep is.

Sy plaasvervanger het sedertdien ook baie teenkanting ontvang toe hy senior politici en senior sekerheidsamptenare wou ondervra.

“Gegewe die skaal van hierdie tragedie is dit skrikwekkend om te sien hoe ver Libanese owerhede bereid is om te gaan om hulself teen ’n ondersoek te beskerm,” sê Lynn Maalouf, adjunk-streeksdirekteur van Amnestie Internasionaal.

Die versuim aan verantwoordbaarheid verhoed verder dat vergoeding en versekeringseise aan slagoffers uitbetaal kan word, wat verdere politieke spanning veroorsaak.

Familielede van slagoffers beplan glo om Woensdag ’n optog ter nagedagtenis aan hulle geliefdes te hou en gaan as deel van dié optog eis dat owerhede binne 30 uur antwoorde verskaf.

Hoewel die Beiroet-hawe teen Oktober 2020 weer gedeeltelik operasioneel was, blyk dit dat herstelwerk aan dié hawe teen ’n slakkepas vorder.

Verskeie lande het egter aangedui dat hulle gretig is om met herstelwerk te help.

“Herstel- en konstruksiewerk het min gevorder sedert die ontploffing. Die land gaan onder ’n enorme ekonomiese en finansiële krisis gebuk en het nie geld om die hawe op hul eie te herbou nie,” berig The Daily Sabah.

Duitsland en Frankryk is onder die lande wat reeds planne voorgelê het om met herstelwerk te help.

Dit is nie in dié stadium duidelik of Libanon al enige ooreenkomste in dié verband aangegaan het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietertjie ·

Dit klink of die ANC kompetisie het wat korrupsie aanbetref!

KB ·

Die Libanese regering is ook maar soos ‘n valskerm…beteken op die aarde niks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.