Meer vrae as antwoorde ná hulle seuntjie se skedel vind

Emile Soleil (Foto: Handout / @GendarmerieNationale_Twitter/AFP)

Daar is meer vrae as antwoorde ná die skedel van ʼn tweejarige seuntjie, wat verlede somer by ʼn Franse Alpynse oord verdwyn het, gevind is.

Emile Soleil was twee en ʼn half jaar oud toe hy in Julie 2023 verdwyn het. Hy het by sy grootouers se vakansiehuis in Le Haut-Vernet gekuier.

Die Franse polisie het Dinsdag ʼn nuwe soektog van stapel gestuur vir die res van sy oorskot ná sy skedel oor die naweek gevind is.

Die skedel en tande wat tot dusver gevind is “gee nog nie ʼn aanduiding van die oorsaak van afsterwe van Emile nie,” het Jean-Luc Blanchon, Aix-en-Provence-staatsaanklaer, Dinsdag aan verslaggewers gesê. “Tussen ʼn val, manslag en moord kan geen afleiding nog gemaak word om sy afsterwe te verduidelik nie.”

Talle gendarmes en ondersoekbeamptes, met behulp van honde wat menslike oorskot kan uitsnuffel, is betrokke by die soektog. Hulle poog om nuwe bewyse op te spoor wat met die seuntjie gebeur het.

Die soektog sal “so lank as wat dit nodig is” voortduur, het die polisie bygevoeg. Geen buitepersoon word toegelaat om minstens tot die einde van hierdie week Haut-Vernet te besoek nie – ʼn tuiste van slegs 25 mense.

Ondersoekbeamptes word bygestaan deur forensiese kollegas in Parys wat die oorskot, wat gevind is, bestudeer.

Is die oorskot geskuif?

Daar moet nog bepaal word of die oorskot, wat Saterdag deur ʼn stapper gevind is, gevind is op die plek waar Emile oorlede is en of dit later daarheen verskuif is.

Die gebied is reeds deeglik deursoek ná Emile verdwyn het.

Ondersoekbeamptes sal probeer bepaal “of die beendere deur ʼn mens, ʼn dier of weens weersomstandighede geskuif is”, het Marie-Laure Pezant, woordvoerder van die gendarmes, Maandag gesê.

Twee bure het Emile op 8 Julie gesien toe hy alleen in ʼn straat in Le Haut Vernet, 1 200 m hoog op in die Franse Alpe, gestap het. Hy het ʼn geel T-hemp, wit kortbroek en stapskoentjies aangehad.

ʼn Grootskaalse soektog deur die polisie, soldate, snuffelhonde, ʼn helikopter en ʼn hommeltuig het niks opgelewer nie.

Die polisie het verlede week na die dorpie teruggekeer en die gebied afgesper. Altesaam 17 mense, insluitend familielede, bure en ooggetuies, is ontbied om die laaste oomblikke van Emile se lewe uit te beeld.

Daar is geen teken van ʼn verband tussen die tydsberekening van die uitbeelding en die opspoor van die oorskot nie.

Emile se ma en pa was afwesig op die dag van sy verdwyning.

“Ons het hierdie tragiese nuus gevrees,” het sy ouers in ʼn verklaring deur hul prokureur gesê ná die oorskot gevind is.

Sommige media het gefokus op die rol van die seuntjie se oupa, nou in sy 50’s. Hy is in die 1990’s ondervra oor vermeende geweld en ʼn seksuele aanranding by ʼn privaat skool. ʼn Bron naby aan die saak het egter gesê enige moontlike rol in die saak word slegs oorweeg tesame met tale ander moontlikhede.

Die oupa se prokureur wou nie Sondag kommentaar lewer nie “uit respek vir die familie se hartseer”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Dieselfde mense wat dit aan kinders doen is ook die mense wat nie omgee om enige tyd van kinders ontslae te raak nie. Dit maak nie saak of dit voor of na geboorte is ni.

Leona ·

Hoe kan enige mens so gesiggie kwaad aandoen. Kinders is n geskenk. My hart, wat n pragtige Klein man.

Retha ·

Kan nie glo dat enigiemand so iets wreed aan so pragtige of enige ander kindjie kan doen nie. Kindertjies is Godgegewe geskenke, daar sop baie wat smag na eie kindjie. My eie dogter kan nie kinders hê nie en so met die grootste liefde hierdie enetjie gekoester het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.