‘Meeste geld nóg’ aan verkragtingslagoffer toegestaan

Argieffoto

ʼn Jurie in die Amerikaanse deelstaat Georgia het dié week $1 miljard (sowat R12,4 miljard) aan ʼn 20-jarige vrou toegestaan wat ses jaar gelede, as ʼn 14-jarige meisie, deur ʼn veiligheidsbeampte verkrag is.

Die nuuswebwerf Newser berig Brandon Zachary (28) het die slagoffer op ʼn piekniektafel by ʼn vriend se partytjie verkrag. Hy was glo gewapen tydens die voorval.

Zachary is in 2016 skuldig bevind en het reeds twee jaar van ʼn 20-jaar lange tronkstraf uitgedien.

Die 20-jarige vrou, ʼn student aan die Ford Valley-universiteit, het ʼn hofgeding teen Zachary se werkgewer, Crime Prevention Agency Inc., gewen.

Sy het aangevoer die verkragting het haar “totaal verander”. “Seksuele aanranding is nie reg nie en dit behoort gestraf te word,” het sy gesê.

Sy het aan Amerikaanse media gesê sy was oortuig dat haar saak “onder die mat ingevee sou word” en dat sy hoop dié uitspraak sal ander verkragtingslagoffers hoop gee. “Die uitspraak wys dat as jy net aanhou veg en doen wat jy moet doen sodat geregtigheid geskied, sal daar ʼn lig aan die einde van die tonnel wees.”

Chris Stewart, die vrou se regsverteenwoordiger, het gesê dié uitspraak is ʼn bewys dat die skade wat ʼn vrou van verkragting opdoen, onmeetbaar is.

Dit is nog onduidelik presies hoeveel geld die 20-jarige sal ontvang aangesien Crime Prevention Agency Inc. volgens Newser se netto-waarde nié $1 miljard is nie.

The New York Times berig dié uitspraak is die meeste geld wat nog ooit in ʼn seksuele aanrandingsaak toegestaan is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ralph ·

Maroela Media. Is dit nou Zacheru se werknemer of werkgewer. Sou dit sy werkgewer wees ontstaan die vraag hoe hul dan gestraf word deur n werknemer se oortreding.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Ralph
Ons vra om verskoning vir die oorsig – dit is inderdaad Zachary se werkgewer. Die berig is gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

thinus ·

Ja sommige mense in Amerika is taamlik mal, veral regslui en regters. En dan beskuldig hulle DT dat hy mal is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.