Meeste van Nestlé se kos, drankies ‘ongesond’

Nestlé is onder meer die vervaardiger van produkte soos Milo, Nesquik en Nescafé. (Foto: Unsplash)

Die voedselvervaardigingsreus Nestlé sê hy werk aan ʼn nuwe voedingstrategie nadat Financial Times (FT) berig het oor ʼn interne dokument wat aandui die meeste van sy kos en drankies is ongesond.

Die interne voorlegging wat vroeër vanjaar onder die uitvoerende hoofde aangestuur is, het onthul dat 60% van Nestlé se hoofstroomportefeulje vir kos en drinkgoed nie voldoen aan die “erkende definisie van gesondheid nie”, het die Britse koerant berig.

Nestlé is onder meer die vervaardiger van produkte soos Milo, Nesquik en Nescafé.

Die voorlegging wat FT onder oë gehad het, het gewys dat net 37% van Nestlé se kos en drankies per inkomste (dit sluit nie produkte soos troeteldierkos, babakos en spesialis mediese voeding in nie) ʼn gradering van 3,5 ingevolge Australië se vyfster-gesondheidgraderingstelsel ontvang het.

Nestlé, vervaardiger van enigiets van sjokolade tot koffie en babakos, probeer nou al etlike jare lank sy bedrywighede herprioritiseer om meer op gesondheid en welstand te fokus terwyl al hoe meer verbruikers neus optrek vir bevrore pizza en suikerdrankies.

Die Switserse maatskappy het veral gekonsentreer op vegetariese en vegan-geregte.

“Ons het beduidende verbeterings aan ons produkte aangebring,” lui die voorlegging volgens FT.

Die “portefeulje onderpresteer steeds teen eksterne definisies van gesondheid in ʼn omgewing waar regulatoriese druk en verbruikerseise die hoogte inskiet”.

ʼn Woordvoerder van Nestlé het aan AFP gesê die maatskappy is besig met ʼn omvattende projek om sy voeding- en gesondheidstrategie by te werk.

“Ons kyk na die hele portefeulje oor verskillende fases van mense se lewens om te verseker ons produkte help om aan hul voedingsbehoeftes te voldoen en ʼn gebalanseerde dieet te steun,” het sy gesê.

Die aanvanklike fokus is op die assessering van die kos- en drankportefeulje teen eksterne voedingprofileringstelsels soos Australië se graderingstelsel.

Nestlé gaan glo later vanjaar die veldtog bekend stel.

ʼn Ongenoemde bron in die maatskappy het gesinspeel dat die maatskappy dalk produkte wat sy gesondheidsgradering aftrek – soos lekkergoed – kan laat vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Juls

Toe ek ‘n kind was, was die eerste bestanddeel in MILO, malt, vandag is dit suiker, dit proe ook nie meer dieselfde nie, baie “dun” en soet.

Anton

Dit sal makliker wees om ‘n lys te maak van maatskappye wat aan die vereistes voldoen

Bart-Man

O hier kom dit. Alles gaan binnekort soos voedsaame en gesonde karton smaak.

Wielspore

Die berig is onvanpas vir SA aangesien dit gerig is op produkte van Engeland en dit gemeet word aan Europese standaarde. Nestle Switserland is die beherende maatskappy wat vereseker dat al sy produkte aan die hoogste standaarde voldoen, ingesluit die wat nie in Switserland vervaardig word. Anders as ander sjokolade en lekkergoed vervaardigers wat meer ongesonde komponente in hulle produkte vervaardig en kliente nie daaroor inlig, het Nestle voortou geneem om te verseker dat hy werk aan meer gesonde lekkernye. Die besluit van Nestle het eerder ‘n meer positiewe impak op verbruikers as wat die berig weergee.

Althes

Ai dis dan so ñ lekker bederfie nou en dan. Hul produkte is baie lekker, alhoewel ek my suikerinname streng dophou.