Meesters en Cape Epic óók weens virus afgelas

Mike Lemcke van Richmond, Virginia in die VSA sit in ‘n leë stadion ná die kollege-basketbalwedstryde afgelas is (12 Maart 2020) (Foto: AP Photo/Ben McKeown)

Sportbyeenkomste reg oor die wêreld word negatief deur Covid-19 beïnvloed met organiseerders wat inderhaas na alternatiewe moontlikhede kyk om sportsterre en -ondersteuners teen die nuwe koronavirus te beskerm.

Verskeie groot gebeurtenisse op die sportkalender is reeds afgelas. En dié lys hou net aan met groei.

Maroela Media het vroeër berig die Formule Een-wedrenne in Bahrain en Viëtnam is uitgestel in die lig van die uitbreking van die nuwe koronavirus .

Hier is van die nuutste verwikkelinge:

  • Die Meesters-gholftoernooi op Augusta

Ná Tigers Woods se heldedade verlede jaar op Augusta het gholfondersteuners beslis na die 2020-weergawe van dié spogtoernooi uitgesien.

Organiseerders het egter Vrydag besluit om die toernooi na ’n latere datum uit te stel.

“Hoewel die besluit vir talle teleurstellend is, is ek seker dat dit die regte een in hierde moeilike omstandighede was,” het die Meesters se voorsitter, Fred Ridley, in ’n verklaring gesê.

Die toernooi sou in April plaasgevind het en Ridley het nog nie met ’n alternatiewe datum vorendag gekom nie. Die klub is tradisioneel tussen Mei en Oktober gesluit.

“Wel, gelukkig is dit net uitgestel en nie gekanselleer nie,” het verlede jaar se naaswenner, Xander Schauffele, gesê. “Solank dit net ‘uitgestel’ is, sal die spelers hul vertroue in daardie woord plaas.”

  • Proteas se eendagkriekettoer na Indië 

Quinton de Kock (argieffoto) (Foto: Cricinfo)

Die Proteas se eendagkriekettoer na Indië is ook iets van die verlede. Quinton de Kock en sy span is op pad terug na Suid-Afrika nadat die eerste wedstryd van die reeks boonop weens reënweer in die wiele gery is.

“Die besluit om die reeks af te las is ’n voorsorgmaatreël in die belang van krieket,” het Krieket Suid-Afrika se tydelike uivoerende hoof, dr. Jacques Faul, gesê.

Volgens dr. Faul werk die land se krieketbase hard saam met mediese personeel sodat hulle tot die beste van hul vermoë na die krieketspelers en -ondersteuners kan omsien.

“Ons is besig met ’n volledige ondersoek om die omvang van die virus op ons krieket – insluitend die plaaslike seisoen – te bepaal.”

  • ABSA Cape Epic

Anna van der Breggen en Annika Langvad wen die sesde been van die 2019 Absa Cape Epic-bergfietsresies (23 Maart 2019) (Foto: Shaun Roy/Cape Epic via ANA)

Die wêreld se taaiste bergfietswedren, die ABSA Cape Epic, het ook in die slag gebly. Die wedren sou Sondag op Tafelberg weggespring het.

“Dit is met ’n baie swaar hart dat ons dié besluit moes neem. Die gesondheid en veiligheid van alle betrokkenes is egter van die uiterste belang. Ons sien egter daarna uit om vir julle ’n ongelooflike wedren in die nabye toekoms aan te bied,” het die wedrenstigter, Kevin Vermaak, gesê.

  • Sesnasies

Skotland se Sean Maitland (tweede van links) vier ‘n drie met sy spanmaats tydens ‘n Sesnasies-wedstryd teen Frankryk (Murrayfield-stadion in Skotland) (8 Maart 2020) (Foto: AP Photo/Scott Heppell)

Die laaste Sesnasies-wedstryd tussen Wallis en Skotland is gekanselleer. Wallis wou aanvanklik met alle mag en mening die naweek op Cardiff teen die Skotte uitdraf, maar het intussen van plan verander.

Dit is die eerste keer sedert 2001 – toe bek-en-klouseer destyds in Ierland uitgebreek het – dat dié rugbytoernooi nie betyds afgehandel is nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.