Meghan en Harry na Charles se kroningseremonie genooi

Prins Harry en Meghan Markle. (Foto: Twitter via Kensington-paleis)

Prins Harry en Meghan Markle, die hertog en hertogin van Sussex, het klaarblyklik ‘n uitnodiging na koning Charles III se kroningseremonie op 6 Mei ontvang.

Dít, ondanks die vrystelling van die egpaar se Netflix-dokumentêre reeks, Harry & Meghan, én die publisering van die prins se opspraakwekkende boek, Spare, waarin hy verskeie uitlatings oor sy pa maak.

ʼn Woordvoerder van die egpaar het dié nuus aan verskeie nuusplatforms, waaronder die BBC, CNN en The Guardian bevestig.

Hoewel amptelike uitnodigings na bewering eers in April uitgestuur word, het dié woordvoerder Maandag bevestig dat die egpaar reeds einde Januarie hul uitnodiging via e-pos ontvang het, aldus die BBC.

Die egpaar het egter nog nie bevestig of hulle op 6 Mei by ander lede van die koninklike familie sal aansluit vir dié geskiedkundige gebeurtenis nie.

Die laaste openbare koninklike geleentheid wat hul bygewoon het, was die begrafnis van koning Elizabeth II in September verlede jaar.

Koning Charles III se kroningseremonie vind toevallig op Harry en Meghan se seun, Archie, se vierde verjaardag plaas. Hul dogter, Lilibet, het verlede jaar haar eerste verjaardag in Engeland gedurende koningin Elizabeth II se platinum jubileum gevier.

Koning Charles III. (Foto: Jane Barlow / POOL / AFP)

Die nuus van hertog en hertogin se uitnodiging volg kort nadat hulle gevra is om hul huis op die Britse-koninklike familie se Windsor-landgoed te ontruim.

Maroela Media het vroeër berig dat koningin Elizabeth II in 2018 die gebruik van dié woning, genaamd Frogmore Cottage, as ʼn trougeskenk aan die egpaar gegee het.

Koninklike kenners meen die besluit om hulle te laat ontruim, het nie noodwendig met die inhoud van prins Harry boek te make nie, maar is in lyn met koning Charles III se plan om die monargie te verskraal. Daar word berig dat die koning se jonger broer, prins Andrew, die hertog van York, nou in Frogmore Cottage gaan woon.

Prins Harry het in ‘n vorige onderhoud oor sy boek aan ITV News-aanbieder Tom Bradby gesê dat hy nie seker is of hy wel sy pa se kroningseremonie sal bywoon indien hy genooi word nie. Hy voer sedert die publikasie van Spare aan dat hy hoop om vrede met sy familie te bewerkstellig.

“Die deur is altyd oop. Die bal is in hulle hande,” het Harry gesê.

Bronne: BBC, CNN.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ilze ·

Die twee gaan nie hartlik deur die Britte ontvang word nie, sou hulle besluit om te gaan.

TruthDealer ·

Ek sou hulle nie genooi het as ek Charles was nie. Megan gaan tog net weer iets “rassisties” vind en Harry sal seker menigte dinge vind wat hom ontstel en teleurstel en traumatiseer. Maar nou ja, dis Charles se partytjie, hy moet maar die gevolge dra.

Hannelie ·

Ek is nie snaaks nie, maar ek dink dis tyd dat Harry nou groot word.

JohanR ·

Koning Charles is grooter en meer belangrik as die twee Elke keer wat Harry die koonlikes afbreuk, gaan Charles ietsie van hom wegneem. Hy het onlangs Frogmore Cottage by hom weg geneem. Jy gaan nooit kan wen nie Harry.

melaney ·

Gee vir hulle elkeen ‘n drie-wiel fiets. Dit sal hulle besig hou tot hulle die dag volwasse word.

Bre ·

Dis eintlik lagwekkend om te sien dat dit eintlik ons vrouegeslag is wat so katterig is teenoor die twee. Ek persoonlik dink dit is vir die beste dat hulle hulle eie potjie gaan krap het.

Manie ·

Keuses het gevolge Harry. Jy het gekies om met iemand te trou wat nie vir die koningshuis aanvaarbaar was nie. Dit gebeur daagliks in baie families, wêreldwyd. Jy het verkies om die koningshuis te verlaat, so leef daarmee saam dat jy koningshuis voorregte opgegee het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die twee gaan seker in ‘n BnB oornag.

Koos 100 ·

Harry bly Charles se seun (of so beweer hulle?) en het nog aanhangers op die eiland. As Charles en William en sy kinders iets oorkom is hy koning. Die lyk vir my eerder vir my na politiek.

Niklaas ·

Dis een geleentheid om weer in die openbaar in Engeland te verskyn wat daardie vrou glad nie sal laat verby gaan nie. Al is dit net om weer nuwe skietgoed op te gaar teen die rassiste van Brittanje. Harry reis net saam en is veronderstel om sy smoel te hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.