‘Meghan, Harry het geen aandeel in boek gehad’

Harry en Meghan. (Foto: Instagram)

Die regsverteenwoordigers van ’n Britse koerantuitgewer, wat deur Meghan Markle gedagvaar word vir inbreuk op haar privaatheid, voer nou aan dat sy vrywillig persoonlike besonderhede bekend gemaak het toe sy saam met die skrywers aan ’n boek oor haar en prins Harry se verhouding gewerk het.

Prins Harry en Markle se regsverteenwoordigers ontken egter dat die egpaar ooit saam met die skrywers aan die boek gewerk het.

Markle dagvaar die uitgewer van die Britse koerant Mail on Sunday en die aanlynnuuswebtuiste MailOnline omtrent vyf berigte oor ’n handgeskrewe brief aan haar vervreemde pa, Thomas Markle, wat in Februarie 2019 gepubliseer is.

Markle (39) eis skadevergoeding van die uitgewer Associated Newspapers Ltd. vir beweerde misbruik van private inligting, skending van outeursreg en oortredings van databeskerming.

Die uitgewer betwis egter dié eis en voer aan dat Markle daarvan bewus moes gewees het dat die brief waarskynlik aan die publiek bekend sou word.

Alexandra Marzec, ʼn prokureur van Associated Newspapers, het Maandag in die Londense hooggeregshof in Engeland gesê Markle het ’n mediastrategie gehad wat “die gebruik van haar vriende as ʼn effektiewe PR-agentskap” behels het om “die media te beïnvloed” in die maande voordat sy die brief aan haar pa gestuur het.

Meghan Markle se regsverteenwoordiger Justin Rushbrooke Maandag buite die hooggeregshof in Londen, Engeland. (Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth)

Die uitgewer wou in die hof sy verweer wysig in die lig van die boek oor Markle en Harry, Finding Freedom, wat verlede maand gepubliseer is.

Die uitgewer voer nou aan dat die boek baie gedetailleerde inligting oor Markle se persoonlike lewe bevat waaronder ʼn aantal gedeeltes wat verwys na haar verhouding met haar pa asook ʼn gedeelte wat spesifiek verwys na die brief.

Antony White, senior advokaat vir Associated Newspapers, het in skriftelike voorleggings gesê die boek is blykbaar geskryf met Markle en Harry se samewerking. Markle se prokureurs het ontken dat sy met die skrywers van die boek, Carolyn Durand en Omid Scobie, saamgewerk het.

“Die eiser en haar man het nie met die skrywers aan die boek saamgewerk nie. Daar is ook nie met hulle onderhoude gevoer nie en hulle het ook geen foto’s aan die skrywers vir die boek verskaf nie,” het Justin Rushbrooke, Markle se regsverteenwoordiger, in ʼn skriftelike voorlegging gesê.

Scobie het intussen ook in ’n verklaring ontken dat Harry en Markle saam met hulle aan die boek gewerk het.

Regter Francesca Kays het Maandag gesê sy sal in ’n later stadium uitspraak lewer oor die uitgewer se poging om sy verweer te wysig.

Maandag se hofsitting was die jongste voorverhoor in dié hoëprofiel-saak. ʼn Volledige verhoor sal na verwagting in Januarie begin.

Die regter het reeds in Mei dele van Markle se eis van die hand gewys, waaronder bewerings dat Associated Newspapers “oneerlik” opgetree het deur sekere dele van haar brief aan haar pa uit te laat. Die regter het ook die bewerings uit die weg geruim dat die uitgewer kwessies tussen Markle en haar pa doelbewus aangewakker het en dat die uitgewer ʼn agenda gehad het om indringende artikels oor haar te publiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Aandag soek

Mariana

Sy hou van die kollig. Is nou al vir maande lank in die nuus. Raak bietjie vervelig……

Annelize

Who cares??? C-Rang aktrisie wat ‘n A-rang “money grabber” geword het. Sy het presies gedoen wat ek voorspel het sy sou doen. Gedink sy gaan die kitaar slaan in die Koninklike familie na sy met Harry getroud is, en toe sy sien sy maak nie hond haaraf nie, toe begin die gekerm en gesanik oor hoe lelik die britse pers haar behandel, en hoe te na gekom sy word. Lekker op Harry se gevoel en vrese oor sy Ma gespeel, dis hoekom hy so gewillig was om “log, stock en barrell” die pad te vat. MEghan het haar kaarte mooi… Lees meer »

ES

Sulke berigte maak my so bly dat ek nie sommer ‘n Average Joe is wat nie publieke aandag geniet nie, want jou hele persoonlike lewe is op ‘n skinkbord sodat mense jou gereeld kan oordeel.

Niklaas

My simpatie lê by Harry swakkeling, of so lyk dit. Duidelik het hy bitter min seggenskap in sy lewe tans, so ek voel maar jammer vir hom. Sy het die mag ( en die seuntjie) en hy moet liewer tjoepstil bly. Ek wonder of sy sulke neigings voor die huwelik openbaar het aan hom? Sy is in beheer, dis duidelik