Meghan, Harry se liefdadigheidstigting in spervuur

Prins Harry en Meghan tydens hul onlangse besoek aan Nigerië. (Foto: Kola Sulaimon/AFP)

Prins Harry en Meghan Markle se Archewell-stigting is deur staatsamptenare in die VSA beveel om die besteding of insameling van geld te staak.

People berig dat die prokureur-generaal van Kalifornië, Rob Bonta, op 3 Mei ʼn kennisgewing namens die registrasiekantoor van liefdadigheidsorganisasies en fondsinsamelings aan die Archewell-stigting uitgereik omdat hulle “versuim het om die nodige jaarverslae in te dien en/of hernuwingsfooie te betaal”.

Dié liggaam reguleer liefdadigheidsorganisasies gebaseer in Kalifornië en verseker dat skenkings nie verkeerd aangewend word en deur bedrog verkwis word nie.

People het dié brief onder oë gehad en berig dat organisasies wat as “oortreders” gelys word nie geld mag insamel of bestee nie. Benewens moontlike boetes kan welsynsorganisasies se registrasie ook opgeskort of herroep word.

Nuus oor die Archewell-stigting se kennisgewing volg kort op die hakke van Meghan en prins Harry se onlangse besoek aan Nigerië ter bewusmaking van die Invictus-spele, die sportbyeenkoms wat Harry vir gewonde militêre veterane in 2014 gestig het.

ʼn Bron na aan stigting het die kennisgewing in verskeie nuusinstansies, insluitende NBC News en E! News, as ʼn administratiewe fout bestempel. Die hernuwingsfooi is glo betyds per tjek betaal, hoewel dit blyk of die tjek “bloot nie deur die registrasiekantoor ontvang is nie”.

Die saak sal glo “binne ʼn week” opgeklaar word, volgens dié bron.

Prins Harry en Meghan se stigting sê die administratiewe fout sal binnekort reggestel word. (Foto: Rolf Vennenbernd/dpa Picture-Alliance via AFP)

Archewell, ʼn organisasie sonder winsbejag wat in 2020 deur die egpaar op die been gebring is, is vernoem na hul oudste kind, prins Archie.

Volgens die stigting se webwerf is sy missie om “op te daag en goeie dade te verrig”. “Ons gryp die oomblik aan deur daar te wees, aksie te neem en ons ongeëwenaarde kollig te gebruik om gemeenskappe – plaaslik en wêreldwyd – op te hef en te verenig deur dade van diens en deernis,” skryf die stigting.

Archewell se 2022-2023-jaarverslag is in Desember 2023 bekendgestel en het onthul dat die stigting verlede jaar $1,2 miljoen (sowat R22,3 miljoen) aan liefdadigheidsorganisasies geskenk het.

Inisiatiewe wat wissel van die bystand van Afghaanse vroue in die VSA tot die bekamping van fopnuus het ondersteuning van die stigting ontvang.

Die BBC berig Archewell se mees onlangse belastingopgawes dui daarop dat prins Harry en Meghan nie ʼn inkomste uit die liefdadigheidsorganisasie verdien nie. Hulle word wel as direkteure gelys, wat ʼn gemiddeld van een uur per week werk. Tog het die stigting ʼn jaarlikse salarisrekening van meer as $640 000 (ongeveer R11,8 miljoen).

Bronne: People, E! News, Sky News, BBC News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Wanneer word Harry uit Amerika geskop?

melW ·

Hy sal nooit uitgeskop word nie, geld praat altyd… ongelukkig

Daizee ·

Terwyl Poplap so koninglik is, kon sy nie maar seker maak die lap oorie skouer gestryk is nie?!!!

JohanEtz ·

Per Tjek betaal?
Ek kan nie onthou wanneer ek laas ‘n tjek gesien het nie!

RS ·

Sy maak voorbrand vir as hulle uit Kanada of Amerika geskop word dan kan hulle in n Afrika land gaan woon.

John ·

Nou Megantjie, wat vat jy nou die lap wat die etenstafel verfraai vir n kledingstuk ? Ai, gaan dit dan so swaar met die miljoene ?

trotsNAMSA ·

Ryk mense en hul organisasies. Die lap was ‘n geskenk van iemand in die Nigeriese hoë kringe.
Die lap word deur Nigeriese vroue gedra en is pragtig. Die lap moes seker vir M meer Nigeries gemaak het !
Sy en H kan gerus in Nigerië gaan woon.

Hussin ·

Pawiljoen Rot, Amerikaners, hulle is redelik agter met tegnologie. Hulle, bank en kaart stelsel laat jou hare orent staan.

Niklaas ·

Hierdie twee kastige konklikes wil nou realiteits sterre wees , soos daai Kardashian spul. Duidelik is dit betalend , maar tog so irriterend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.