Meghan Markle kry een pond as vergoeding

Meghan Markle tydens die 2021 Global Citizen Live-fees by die Great Lawn, Central Park in New York op 25 September 2021. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Meghan Markle sal een Britse pond in vergoeding van Associated Newspapers, een van Brittanje se grootste nuusgroepe, ontvang nadat ʼn appèlhof in haar guns beslis het oor ʼn privaatheidsaak.

Die bedrag van sowat R21,59 is betaalbaar deur Associated Newspapers vir die misbruik van private inligting. Die groep sal ook ʼn “vertroulike bedrag” moet betaal vir die skending van die hertogin van Sussex se kopiereg.

ʼn Woordvoerder vir Markle sê die bedrag vir die kopieregskending is ʼn “aansienlike syfer” en sal aan liefdadigheid geskenk word.

Die besonderhede van verlede maand se bevinding deur die appèlhof in Londen het Woensdag in ʼn  brief deur Associated Newspapers se regspan aan die lig gekom. Dié nuusgroep publiseer onder meer die Sondagkoerant The Mail en ook MailOnline.

Die hof het ook bevind dat Associated Newspapers ʼn bedrag van £300 000 (sowat R7 miljoen) aan Markle moet betaal vir regskoste. The Mail moes ook ʼn voorbladstorie plaas oor Markle se sukses in die hof.

Die nuusgroep het voorheen aangedui hy oorweeg om verder te appelleer in die Britse hooggeregshof, maar volgens die BBC het die maatskappy nou die saak laat vaar.

Markle, wat in 2018 met Brittanje se prins Harry getroud is, het in 2019 die nuusgroep gedagvaar oor die publikasie van ʼn brief wat sy in 2018 aan haar vervreemde pa, Thomas Markle, geskryf het.

Volgens Associated Newspapers se prokureurs het Markle dié brief geskryf met die wete dat dit moontlik uitgelek kan word, ten spyte daarvan dat sy die teendeel aanvoer.

Markle het verlede maand in die appèlhof om verskoning gevra nadat sy erken het dat sy ʼn voormalige assistent toegelaat het om die skrywers van ʼn biografie oor haar kort ampstermyn as Britse koninklike in te lig, ten spyte van vorige ontkennings oor die aangeleentheid.

Hoewel een pond na kleingeld lyk, was die hertogin se uitgangspunt eerder ʼn beginselsaak as finansiële gewin.

In haar eie verklaring wat ná die beslissing uitgereik is, het Markle mense aangemoedig om “dapper genoeg te wees om die poniekoerantbedryf, wat munt slaan uit die leuens en pyn wat hulle skep, te hervorm”.

Markle (40), en Harry (37), woon tans in Kalifornië in die VSA nadat hulle in 2019 finaal van hul koninklike pligte afstand gedoen het. Hulle het intussen regsaksie teen verskeie publikasies geneem en voer aan dat hulle privaatheid geskend word.

Bronne: BBC, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Marius ·

Dis ‘n ander manier om aandag te kry. Hul gaan een of ander tyd hul moses teëkom.

Gert ·

Ek sal haar 10 pond gee as sy en haar man altwee besluit om hul monde toe te hou en ophou om aandag te soek

Mallie ·

Foeitog nou moet sy in n hofgeding betrokke raak om aandag te trek en alleen op die voorblad van n koerant verskyn. Terwyl Kate outomaties sulke aandag kry sonder om betrokke te raak in eise.

Yolandie ·

Megan en Harry raak nou afgesaag. Julle het gekies om Brittanje te verlaat en ‘n stil lewe te gaan ly uit die kollig uit, maar as mens sien is julle orals. As koninklike staan julle in diens van Brittanje…….maar lyk my julle wil nie eintlik werk nie. So julle soek eintlik roem op julle voorwaardes. Raak tog net stil en hou op aandag soek!!!!

Johnny ·

So ly ons onder leiding van die ex-koninklikes se aandagsoekery . . .

Catherina ·

So moeg om van haar te lees. Saai net onmin waar sy gaan

Blomme ·

Was Meagan al so baie in die nuus voordat sy adel lewe gekies het? Laat mens wonder oor haar intensies!

Frank John ·

As jy in daai kringe wil beeeeg moet jy weet jy gee jou privaatheid op. Jy word die media se eiendom.

Yvonne ·

Dis die sogenaamde skending van privaatheid wat my krap! Dié twee se privaatheid is ‘n groot raaisel! Hierdie girlie is baie entitled!

Niklaas ·

Hoe meer jy in die nuus is, hoe beter gaan dit geldelik met jou in die VSA. Kyk maar na die skatryk Kardasians

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.