Meghan Markle onthul sy het miskraam gehad

Meghan Markle. (Foto: Paul Edwards, AP)

Meghan Markle, vrou van die Britse prins Harry, het in ʼn openhartige essay vir die New York Times onthul dat sy in Julie vanjaar ʼn miskraam gehad het.

Dit sou haar en die prins se tweede baba gewees het. Hulle het ook ʼn eenjarige seuntjie, Archie Harrison Mountbatten-Windsor, wat op 6 Mei verlede jaar gebore is. Die gesin woon tans in Santa Barbara, Kalifornië, nadat Markle en Harry vroeër vanjaar terug getree het as senior lede van die Britse koninklike familie.

In die artikel vir die New York Times beskryf Markle (39) die gevoel van “amper onuithoudbare verlies” nadat sy in Julie vanjaar ʼn “skerp pyn” ervaar het nadat sy Archie se doek geruil het en uiteindelik in die hospitaal beland het.

“Ek het na die vloer geval met hom [Archie] in my arms en ʼn wiegelied geneurie om ons albei kalm te hou, die vrolike wysie in sterk kontras met my gevoel dat iets nie reg is nie. Ek het geweet, soos ek my eersgeborene vashou, dat ek besig is om my tweede een te verloor,” skryf Markle.

Sy verwys ook na ʼn onderhoud met ʼn joernalis wat verlede jaar tydens haar en Harry se toer na Suid-Afrika vir haar gevra het of sy “oukei” is.

Prins Harry en Meghan Markle. (Foto: Reuters/Darren Staples)

“Ek het hom eerlik geantwoord, min wetende dat soveel mense sou aanklank vind by dit wat ek gesê het – nuwe ma’s en ouers, en enige iemand wat op hul eie manier in stilte gely het. Dit blyk dat my op-die-man-af-antwoord mense toestemming gegee het om hul verborge waarhede in woorde uit te druk. Dit was egter nie die antwoord wat my die meeste gehelp het nie, maar die vraag.”

In die essay moedig Markle mense aan om na mekaar uit te reik tydens die feesseisoen en die Amerikaanse Thanksgiving-seisoen. Sy sê dit is ook waarom sy besluit het om juis nou van haar miskraam te vertel.

“Om ʼn kind te verloor bring ʼn gevoel van amper onuithoudbare verlies wat deur soveel mense ervaar word, maar selde oor gepraat word. In die pyn van ons verlies het ek en my man ontdek dat in ʼn kamer van 100 vroue, tien tot 20 van hulle moontlik al ʼn miskraam ervaar het. En tog, ten spyte van hierdie algemene pyn, is die gesprek taboe en besaai met skaamte.”

Markle is die tweede lid van die koninklike familie wat haar hart oor ʼn miskraam oopmaak. Koningin Elizabeth II se kleindogter Zara Tindall het in 2018 onthul dat sy twee miskrame gehad het voordat sy die lewe aan haar tweede kind geskenk het.

Lees Markle se volledige essay hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Die Goodwoodianer ·

Ons moet groot respek vir vroue hê, hulle is werklik wonderlik. God seën die vroulike skepping. God seën ons land se vrouens en kinders.

Ann ·

Ek ken die gevoel van ‘n miskraam. Ek wens dit vir niemand toe nie. Sterkte Meghan. Xx

Patch ·

Ek deel die hartseer, het ‘n tweeling aan ‘n miskraam verloor. Die gevoel van verlies gaan met tyd weg maar die onthou bly mens altyd by.

Karina ·

Dit is bitter hartseer vir man en vrou as ‘n baba verloor word deur ‘n miskraam. My empatie met elke vrou wat hierdie trauma deurgaan. Niemand met wie dit gebeur het weet die vreeslike pyn en leemte wat ‘n vrou voel nie.

Monique ·

Die is ‘n baie mooi foto van haar. Mooi natuurlik met al haar sproete wat wys.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.