Meisie (14) mag ‘gevries’ word na kankerdood

cryonicsʼn 14-jarige meisie van Engeland se liggaam gaan kriogenies bewaar word, nadat sy aan kanker oorlede is.

“Ek wil leef en langer leef en ek dink hulle kan in die toekoms ʼn kuur vir kanker vind en my dan wakker maak,” het die meisie in ʼn brief aan regter Peter Jackson geskryf voordat sy onlangs dood is.

Sy het geskryf sy wil kriogenies bewaar word, aangesien sy dan moontlik die geleentheid kan kry om eendag – dalk eers oor honderde jare – weer te lewe. “Ek wil nie begrawe word nie. Ek wil hierdie kans hê. Dit is my wens,” het sy in haar brief geskryf.

Die meisie was te siek om self die hofverrigtinge by te woon, maar Jackson het haar in die hospitaal besoek. Volgens Jackson is hy beïndruk met die dapper manier waarop sy haar onvermydelike afsterwe as gevolg van die rare soort kanker hanteer het.

Haar smeekbede het regter Jackson oortuig om haar laaste wens toe te staan. Hy het gesê dit is die eerste hofbevel van sy soort in Engeland en moontlik in die wêreld. Jackson het bygevoeg die meisie het die mees basiese bewaringsopsie gekies, wat sowat $46 000 (R670 000) kos.

Haar geskeide ouers het aanvanklik nie saamgestem oor haar wens nie. Haar ma was ten gunste daarvan, maar haar pa het dit teengestaan. Hy het egter nader aan haar dood toegegee.

Die meisie het die hof versoek dat slegs haar ma toegang tot haar liggaam sou hê sodat sy kriogenies bewaar kan word. Haar ma sal haar liggaam na ʼn spesialisfasiliteit in Michigan in Amerika neem vir die proses om te begin. Die tegniek is baie omstrede, maar sommige mense glo liggame kan gevries word en dan weer later lewend gemaak word. Die mediese gemeenskap is egter skepties oor die tegniek.

“Dit is ʼn voorbeeld van die nuwe vrae wat die wetenskap vir die gereg kan inhou in die toekoms,” het Jackson gesê. Sy bevel is al in Oktober gemaak, maar die media is verbied om daaroor berig te terwyl die meisie nog gelewe het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Landi Slatter ·

Dagsê Paul

Dankie vir jou terugvoer! Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Piet ·

As mens sonder God is het jy geen hoop. Dit sal almal nog sien wanneer daar net ‘n paar korrels in jou uurglas oor is. Dis so jammer dat hierdie kind nie kon vrede vind nie.

JP ·

Is die $46 000 nie miskien nader aan R670 000 nie?
Ek vra maar net.

AlexJ ·

Daar staan R670 000. Die spasie is net op die verkeerde plek

Estelle ·

Aan die een kant kan ek dit verstaan, as mens 14 is dink jy daar is nog so baie om voor te lewe!! Aanvaarding van jou lot is regtig net moontlik met die genade van Jesus Christus.

Asjas ·

Sy het NIE vrede gemaak met haar dood nie. Hoekom hoop sy weer wakker gemaak te word? Iemand wat vrede gevind het aanvaar dit gaan heen. Wie gaan betaal hiervoor en gaan haar ouers haar daar besoek soos ‘n graf?
Wie weet hoe lyk die aande oor 100de jare en daai mense begin ontdooi? Sy wens dalk net sy was maar dood. Siek.

Sarie ·

As hulle haar soù kon wakker maak, mag sy dalk met ‘n skok besef, dat àlmal wat sý agtergelaat het lankal reeds dood is & die wêreld & àlles wat daarop is, totààl verander het. Dis te sê, as sy hoegenaamd enigiets van haar vorige lewe kan onthou. Moontlik is sy weer soos ‘n baba, wat moet lèèr praat ens. Vir mý is dit ‘n bizarre besluit; maar ek sal nòòit weet nie, want ek sal lànkal stof wees…

Mens ·

Ek stem saam met die kommentare tot dusver. Eintlik tragies. Die regter het ‘n emosionele besluit geneem. Aai tog…?

Cherokee ·

Ek ek verskil met die kommentare tot dusver. Een ou raai selfs dat sy nie vrede gevind het nie. My afleiding is anders. Ons glo in die lewe hierna maar waarna daardie kind hunker is om die huidige, die aardse lewe as jongeling te ervaar. Die lewe hierna is in ‘n ander dimensie. Sy beplan om in hierdie dimensie wat ons ken weer jonk te wees en daarna by ons aan te sluit waar ons dan sal wees.

Johan II ·

Ek stem nogal met jou saam Cherokee…maar ek dink ook die skade aan jou ligaam na dit gevries is gaan geweldig wees, kloon dalk maar herstel, nie maklik nie.

Maud ·

Die siel verlaat die liggaam as jy sterwe. Dit is die basiese geloof van meeste gelowe. Behalwe vir reïnkarnasie weet ek nie of sy sal kan terugkeer na haar liggaam. Dan is daar die beste kans wat sy blykbaar verbeur het en dit is wedergeboorte in Christus. Arme kind wat weet sy tog?

Piet ·

Ou Cherokee, my vriend, jy is reg as jy dink dat sy dalk vrede kon vind, wie weet, sy was dalk selfs ‘n Christen. Hulle se nie. Ek is dalk verkeerd. Ek was so bevoorreg om ‘n ou te ken wat voor my gesterf het, wat vrede gehad het. Ek weet hoe lyk ‘n ou wat in sy lewe en in die laaste minute voor sy dood vir niks bang was nie. Ek het ook die gesien wat goeie mense was maar wat vrek bang was op die einde. Dan het ek die gesien wat vreesbevange was. Ek is nie oud genoeg of wys genoeg om alles te weet nie, maar ek dink hierdie arme kind het dalk geworstel met die idee van haar dood, dus my aanname.

Cherokee ·

Dankie vir jou terugvoer, Piet. Ek voel anders as die meeste kommentare (terloops, dit moes ‘en ek’ gewees het en nie ‘ek ek’ nie) omdat ek so jammer is as ek dink oor watter stryd sy moes gehad het meegaande met drome van nuwe ontwikkelings en herstel. En verlange om ook ‘n normale jong lewe te kon lei. Sy lê in ‘n bed en verwyl haar tyd met leesstof en daar lees sy van die wetenskap wat beweer dat hulle kan kloon uit DNS…! Wetenskaplikes wat beweer hulle kan ‘n mammoet (oer olifant) uit sy fosiel kloon. Piet, dit is ‘n kind… ‘n kind met verwagtinge en hoop. Ek het nie naastenby ‘n idee hoeveel geestelike groei daar kan wees by ‘n kind van 14 nie maar besef wel watter verbeeldingsvermoë daar is want Piet, ek was ook dekades gelede 14 jaar oud. Nou maak ons nie staat op verbeelding nie want ons weet daar is ‘n lewe hierna. Miskien was sy net so bewus daarvan maar het steeds ook hoop op ‘n aardse lewe gehad. Vrede vir jou.

Jeug ·

Word 14 jaar oud met die vooruitsig om aan kanker te sterf en besluit dan wat om te doen.

maria ·

Dis die Here se wil. Ek sal veel meer by Jesus wil wees as hier op aarde. Sy is nog kind ja, daar is ook baie ander kinders wat jonk sterf . Die bybel praat van dinge wat jy nooit op aarde sal kan ervaar nie. Beter dinge , net die beste. Dis my opinie…

Tollies ·

Dis reg 14 jaar is jonk , op alle ouderdomme gaan mense dood van voorgeboorte tot 200 jaar oud die lewe is n voor reg maar die dood n wins lewe sal sy ongelukkig nie weer nie dit was die wil maar een ding weet ek die oomlik wat sy by ons Hemelse Vader uit gekom het en haar trane afgedroog het, en rond om haar gekyk het het sy nie meer n begeerte van die aard se lewe gehad nie en was dit te laat om haar ouers toestemming te gee om haar te begrawe

LB S ·

Sy moes besef het sy gaan siek “wakker” word en dan moet die mediese wetenskap haar nog probeer genees. Ek dink sy was baie dapper! Dit is nie vir ons om haar te veroordeel of te wonder of sy ‘n Christen was, of nie. Sy het dalk hierdie besluit geneem en terselfdertyd vir die wil van God gevra, wat dan moet gebeur moet gebeur.

Snip ·

Dis tragies om op so jong ouderdom te sterf aan kanker, maar dis hoe God haar pad beplan het en ek glo nie dis reg om God se werke te wil verander nie. Hy het haar kom haal vir sy blomtuin en tog sal sy weer verenig met haar mense met God se koms, waarom jou laat vries en na paar jare is jou mense in elkgeval nie meer daar nie, waar gaan sy dan oor begin. Nee, ek stem nie saam met die besluit van haar nie. Ons kan nie teen God se besluite gaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.