Meisie (17) danksy Facebook opgespoor jaar ná sy vermis raak

Foto: Pixabay

ʼn 17-jarige meisie van Noord-Carolina in die VSA is danksy ʼn Facebook-wenk veilig terug by haar ouerhuis sowat ʼn jaar nadat sy vermis geraak het en as gyselaar aangehou is.

Michael Wysolovski (31), die man wat haar ʼn jaar lank in sy huis gevange gehou het, is die afgelope naweek in hegtenis geneem.

Die meisie se ouers het destyds aan die plaaslike media gesê sy was sedert 23 Mei verlede jaar vermis. Volgens berigte was die voordeur van die huis nie gesluit nie en die meisie skoonveld. Haar ouers het gesê daar was geen tekens van haar skielike verdwyning gewees nie.

Die Amerikaanse federale ondersoekburo (FBI) het ʼn volskaalse soektog na haar van stapel gestuur en ʼn beloning van sowat $15 000 (bykans R200 000) aangebied. Die soektog is later laat vaar.

Haar ouers het vandeesweek aan die nuuskanaal WSOC gesê sy is ná ʼn Facebook-wenk deur die polisie opgespoor. Volgens WSOC het ʼn vrou in Roemenië die ma van die 17-jarige genader en gesê haar dogter lewe en wil huis toe kom.

Die polisie het haar enkele ure ná die wenk in Wysolovski se huis gekry.

Volgens owerhede was sy van tyd tot tyd meer vryheid gegun en het soms toegang tot ʼn selfoon gehad.

Traci Cason, die aanklaer, sê dit is egter steeds onseker of daar ʼn verhouding tussen die Roemeense vrou en Wysolovski is, maar uitsluitsel daaroor is hangende ʼn ondersoek.

Cason sê die 17-jarige en die beskuldigde het glo in ʼn kletskamer ontmoet. Ná die twee ʼn geruime tyd aanlyn geklets het, het hy haar die oggend van 23 Mei sowat een kilometer van haar ouerhuis opgelaai en na sy huis geneem.

Wysolovski het haar glo gevange gehou met ʼn traliehek wat van die vloer tot teen die dak hoog is. Hoewel sy soms vry in die huis kon beweeg, het hy haar oortuig dat sy in hegtenis geneem sou word indien sy hom verlaat.

Wysolovski word beskuldig van sodomie, wreedheid teenoor tieners, inmenging met toesig en onwettige gevangenskap.

Cason sê Wysolovski staar ʼn lewenslange vonnis plus 35 jaar in die gesig.

Bron: CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

"Veilig"? ·

“Veilig” tuis? Ek dink sy is tuis met baie trauma. Hy hoort eintlik aan die galg.

Ann ·

Ek is baie bly sy is opgespoor en veilig by haar ouers. Sterkte aan die meisie, dit moes ‘n nare ondervinding gewees het!

Laksman ·

Sluit hom weg! In Amerika bly jy 35 jaar as dit jou vonnis is, nie soos in Suid Afrika waar die bewaarders jou help “ontsnap” na 1 jaar nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.