Mej. Amerika: Drie hoofde bedank oor e-posskandaal

Cara Mund van North Dakota, Mej. Amerika vir 2018 (Foto: Miss America, Facebook)

Drie leiers van die Miss America Organization het bedank een dag na 49 voormalige Mejj. Amerika ʼn beroep gedoen het op die leierskap van dié organisasie om te bedank.

Volgens ʼn verklaring deur die organisasie het die uitvoerende hoof Sam Haskell, raadsvoorsitter Lynn Weidner en president en uitvoerende bedryfshoof Josh Randle hul bedankings ingedien.

ʼn Raadslid, Tammy Haddad, het Vrydag reeds sy bedanking ingedien.

Die bedankings volg ná ʼn eksklusiewe berig Donderdag deur die Huffington Post waarin byna drie jaar se interne e-posse gepubliseer is waar voormalige mejj. Amerika met aanstootlike taalgebruik beskryf word.

Haskell, Randle en Lewis Friedman, ʼn voormalige skrywer van die organisasie, en raadslede Weidner en Haddad is van die persone wat betrokke was by die omstrede e-poskorrespondensie, wat deur anonieme bronne verskaf is.

Volgens Huffington Post is daar na die voormalige skoonheidskoninginne se gewig of hul privaat sekslewens verwys.

In ʼn e-pos waar Friedman sy meegevoel betuig met Haskell oor die afsterwe van die voormalige Mej. Amerika Mary Ann Mobley, het Friedman geskryf: “Dit moes Kate Shindle gewees het.” Shindle was Mej. Amerika in 1998 en het in ʼn biografie nie saamgestem met Haskell se hoë salaris nie.

Die 49 voormalige skoonheidskoninginne het in ʼn ope brief geskryf: “Ons verwerp ten sterkste die verkeerde karakterisering van ons as ʼn groep en individueel. Ons is geskok en hartseer om kennis te neem van die walglike en skandelike woorde deur die leierskap van Mej. Amerika.”

Haskell het Vrydag om verskoning gevra vir sy “fout”, maar het gesê die artikel in die Huffington Post is “oneerlik, misleidend en afstootlik”.

Die Miss America Organization het gesê ʼn indiepte-ondersoek sal gedoen word oor die beweerde onbehoorlike kommunikasie en die aard waarop dit bekom is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann Marx ·

Ons is besig om ‘n denkende mensdom te word…………jy kan dink wat jy wil, solank jy dit net nie sê of e-pos nie!!

Pop ·

So sal almal algaande leer om nie eers by jou huis my mondjie oop te maak of vingers op toetse te sit nie. Eenkeer “gesend “en dit is vir ewig in die ruimte. Die merk van die dier is ophande.

Valerie ·

Pop, die enigste dier is die sogenaamde “skoonheiskompetisies.” Op watter vlak dit gesond of bydraend tot enige iets goed kan wees kon ek nog nooit sien nie. Dit is ‘n euwel.

LB ·

Ek wonder net as ek die bitsigheid en kru skrywes lees wat mense oor ander te sê het, wat sê mense werklik van die mense na aan hulle en die wat ons alledaagse lewe deel op kantoor of jou buurman as die onnadenkendes bereid is om dit op skrif te waag. Hoekom is mense so afbrekend of is dit ‘n simptoom van almal se frustrasie met die moeilike tye waarin ons wêreldwyd verkeer?

Peet Schabort ·

Laat my dink aan die drie apies. (As ek reg onthou komende uit japanese oorsprong). Hulle stel voor met hande wat oë, ore en mond toehou: ‘See no evil, hear no evil and speak no evil’. Daar is toe deur ‘n stouterd ‘n vierde apie bygevoeg met hande op ‘n baie strategiese plek met die woorde ‘do no evil’. Laat mens dink nê?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.