Menseregteprokureurs in Zimbabwe aangekeer

(Foto: John Wessels/AFP)

Twee Zimbabwiese menseregteprokureurs het Dinsdag in die hof verskyn op aanklag dat hulle die polisie verhinder het om hul kliënte te ondervra. Hul kliënte is twee lede van die opposisieparty wat na bewering ontvoer en gemartel is, sê bronne.

Die polisie het prokureurs Douglas Coltart en Tapiwa Muchineripi in ʼn Harare-hospitaal in hegtenis geneem toe hulle beswaar aangeteken het toe die polisie hul kliënte wou ondervra. Hulle het aangevoer hulle kliënte is medies nie in ʼn toestand om vrae te beantwoord nie.

Coltart en Muchineripi, wat die aand in die tronk deurgebring het, staan tereg op aanklagte van dwarsboming van die gereg.

Die twee se kliënte is ʼn raadslid wat onlangs verkies is en ʼn aktivis vir die land se grootste opposisiegroep, die Citizens’ Coalition for Change (CCC).

Coltart en Muchineripi se prokureur, Alec Muchadehama, het in die hof gesê die prokureurs se inhegtenisneming was “onwettig”. Volgens hom het die polisie aanvanklik ʼn “vriendelike” gesprek met die twee prokureurs gehad en het ingestem om later terug te keer.

ʼn Ander polisiebeampte wat die hospitaal besoek het, het egter later “dramaties” opgetree en die twee van dwarsboming van die gereg beskuldig.

Die CCC het die inhegtenisnemings veroordeel en gesê die aanklagte is beuselagtig.

Coltart en Muchineripi is vrygelaat op die ekwivalent van $100 (sowat R1 900) borgtog elk.

Hul kliënte, Womberaishe Nhende en Sanele Mkhulhani, is Saterdag deur vermoedelik gewapende regeringsagente uit hul voertuig gedwing, het die Zimbabwiese Lawyers for Human Rights (ZLHR) in ʼn verklaring aangevoer. Hulle is geboei, met skokgewere geskok, met knuppels geslaan en ‘met ʼn onbekende middel ingespuit’ voor hulle kaal langs ʼn rivier gelos is.

Hulle was “albei slagoffers van ontvoering, marteling en bedwelming deur vermoedelik staatsagente”, het die CCC gesê.

Die uitslag van die verkiesing verlede maand in Zimbabwe waar Emmerson Mnangagwa van die Zanu-PF as leier uit die stryd getree het bo die CCC-leier Nelson Chamisa, word betwis.

Mnangagwa (80) is Maandag beëdig toe hy 52,6% van die stemme ontvang het teen die 45-jarige Chamisa se 44%, aldus amptelike syfers.

Die CCC veroordeel die uitslag as gebrekkig en eis ʼn nuwe verkiesing. Streek- en internasionale waarnemers veroordeel ook die verkiesing vir verskeie onreëlmatighede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

En die “leier” van die anc en sa woon sy inhuldiging by om namens sa sy steun en vertroue te wys,en dit terwyl die meerderheid leiers die inhuldiging geboikot het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Van al die SADC presidente was net drie daar: SA, DRK en Mozambiek. Die res weet dit was’n klug.

Gert ·

En die wat uit dieselfde stuk hout gekerf is sal sy oorwinning toejuig en sy inhuldiging steun met volle vertroue.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.