Mensesmokkelaars los 300 in woestyn aan lot oor

Foto: Soedannese vlugtelinge in ‘n vlugtelingkamp (AFP)

Foto: Soedannese vlugtelinge in ‘n vlugtelingkamp (AFP)

Gewetenlose mensesmokkelaars het sowat 300 mense in die woestyn aan hul lot oorgelaat.

Die groep was na Libië op pad. Vir 19 het hulp in die vorm van ‘n gesamentlike reddingsoperasie deur die Libiese en Soedannese weermagte te laat gekom. Talle van die oorlewendes verkeer in ‘n kritieke toestand.

Na berig word het die smokkelaars met die groep tot in die woestyn gery, waar hulle eenvoudig uit die voertuie gedwing is en agtergelaat is. Die smokkelaars was reeds deur die vlugtelinge betaal.

Die vlugtelinge het uit Soedannese, Ethiopiërs, Eritreërs, Pakistani’s en Bangladesji’s bestaan.

Veral Soedannese vlugtelinge wat voor die voordurende oorlogstoestande in die land vlug, durf dikwels die Libiese woestyn aan in ‘n poging om die Middellandse See te haal, en van daar na Europa te vlug.

Bronne: Voice of America, Belga

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.