Mensgemaakte aardbewings beter voorspel: Sowat 200 aardbewings per maand skud Oklahoma

Argieffoto.

Argieffoto.

Die waarneming dat aardbewings in die sentrale en oostelike dele van die VSA sedert 2000, en veral 2009 skerp toeneem, is pas bevestig in ’n nuwe verslag van die Amerikaanse geologiese opname-agentskap, die USGS.

Die spuit van afvalvloeistof in uitgediende gate waaruit gas en olie ontgin is kry die skuld hiervoor, en altesaam agt deelstate word hierdeur geraak. Voorts is nog ’n verslag bekendgestel wat ’n voorlopige model voorstel waarmee die aardbewings en hul verwagte sterkte voorspel kan word. Die wetenskaplikes hoop om dit oor ’n jaar te finaliseer.

Waarskynlik een van die mees seismiese areas ter wêreld die afgelope sowat twee jaar kom voor in ’n gebied noord van Oklahoma City tot in die suide van Kansas. Volgens die USGS se aardbewingkaart is die gebied die afgelope maand deur sowat 200 aardbewings van M2,5 – 2,5 of meer op die Momentmagnitude-skaal – geskud.

Dit is ongeveer ’n derde soveel as die totale aantal skuddings van M3 of sterker, 367, wat in die ganse 2014 in die gebied voorgekom het. Altesaam vier van hierdie skuddings was M4 of sterker.

Die sterkste aardbewing in die gebied was in November 2011 toe ’n skudding van M5,6 naby die dorpie Prague, nie ver van Oklahoma City nie, gemeet is.

Wat hierdie aardbewings veral interessant maak, is dat hulle volgens verskeie studies verband hou met die ontginning van gas en olie, en in die besonder die terugpomp van afvalvloeistowwe in diep uitgediende skagte. Die mynmaatskappye betwis die bevindings verbete.

Tradisioneel kom die meeste aardbewings in die VSA aan die weskus voor, en op of naby die San Andreas-verskuiwingsvlak. Sedert die vlaag aardbewings in Oklahoma begin het, is daar egter waarskynlik meer aardbewings in hierdie gebied as aan die weskus.

Dit staan in geologiese terme as ’n swerm bekend. Sulke swerms in ’n bepaalde gebied, soos enkele jare gelede in Arkansas, kan in ’n relatief kort tydperk enorm baie aardbewings en aardtrillings oplewer, gewoonlik lig. Tydens die Arkansas-swerm in 2013 was daar in ’n stadium bykans 40 aardbewings per week. Arkansas neig om periodiek sulke swerms te beleef en niemand weet wat die oorsaak is nie – die oorsaak is waarskynlik in oer-verskuiwingsvlakke te vinde wat nou diep onder die aardoppervlak is.

Met aardbewings in die sentrale en ooste van die VSA die afgelope aantal jare het die USGS inderdaad ook die geleentheid benut om deur die bestudering van naskokke vas te stel waar onbekende verskuiwingsvlakke is. Daar is toenemende kommer dat die aardbewingswerms groot aardbewings kan aktiveer.

Op 12 April vanjaar het ’n aardbewing van M4 op die New Madrid-verskuiwingsvlak voorgekom. Hierdie verskuiwingsvlak het tussen die einde van 1811 en die begin van 2012 drie reuse aardbewings in die Mississippi-omgewing opgelewer. Daar word bereken dat hierdie aardbewings tussen M 7 en M 8,1 was. Dit is nie baie ver van die Oklahoma-swerm af nie.

In Suid-Afrika het ’n kleinerige aardbewingswerm enkele jare gelede in die Augrabies-omgewing voorgekom. Ligte aardbewings kom ook betreklik gereeld in die omgewing van die Van der Kloofdam voor en dié feit is in die ontwerp van die dam in berekening gebring.

Bronne: USGS, The Washington Post, CNN,  Wikipedia, Dutshsins.com

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.