‘Menslike fout’ dalk oorsaak van skip in Suezkanaal

MV Ever Given in die Suez-kanaal (24 Maart 2021) (Foto: Suez CANAL/AFP Photo)

ʼn Tegniese of menslike fout is moontlik die rede waarom ʼn 400 m lange vragskip in die Suezkanaal vassit en die wêreld daagliks $9 miljard (R144 miljard) kos. Tegnici moet boonop teen tyd werk om die skip tydens die huidige hooggety te bevry, omdat dit nóg moeiliker sal wees om dit tydens laaggety reg te kry.

Die Taiwannese houerskip Ever Given sit sedert Dinsdag dwars in die kanaal vas en versper al meer as 300 skepe om hul duur vrag deur die kanaal te vervoer. Die vervoer van olie word ook hierdeur geraak en Maroela Media het Saterdag berig baie skepe oorweeg dit nou om eerder om die suidpunt van Afrika as deur die Suezkanaal te vaar. Dié ompad sal egter skepe se reistyd met 12 dae verleng.

MV Ever Given in die Suez-kanaal (25 Maart 2021) (Foto: Suez CANAL/AFP Photo)

Owerhede het aanvanklik gesê sterk winde en ʼn sandstorm het veroorsaak dat die skip vassit. Osama Rabie, hoof van dié Egiptiese kanaal, sê nou die weer alleen was nie verantwoordelik vir die ongeluk nie.

Japannese owerhede het aanvanklik gesê die skip sou teen Saterdagaand bevry word. Nou hoop hulle om die kanaal teen Sondagaand oop te stel.

ʼn Hyser is reeds Vrydagaand ontplooi om van die swaar vraghouers van die skip se dek te verwyder. Die skip kan egter makliker tydens die huidige hooggety bevry word en indien owerhede dit nie binne die volgende paar dae regkry nie, sal hulle eers weer oor ʼn maand dieselfde gunstige toestande hê.

Inligting wat Saterdag aan die lig gekom het, dui boonop daarop dat die lewe van ongeveer 130 000 diere aan boord van die vasgekeerde skepe ook in gedrang is, sou die houerskip nie binnekort verwyder word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Agh kom ons blameer die ANC, want dit kan nie weer Jan van Riebeeck se skuld wees nie!

HJvdb ·

Eers die Covid deur China, nou die afsny van die belangrikste see roete deur Japan…beide voorvalle hou miljoene se daaglikse verlies in vir die wereld….. wonder hvl van China en Japan se skepe is in daai opeenhoping vasgevang…dalk geen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.