Menslike fout oorsaak van mallemeule-ongeluk – verslag

Tyre Sampson (Foto: Twitter)

’n Operateursfout is vermoedelik die primêre oorsaak dat die 14-jarige Tyre Sampson op 24 Maart van ʼn bewegende mallemeule by ʼn pretpark in Florida in die VSA na sy dood geval het. Dit is volgens die bevinding van ’n forensiese ingenieur se verslag oor die voorval na ʼn ondersoek ter plaatse.

ABC News en CBS News berig ’n individuele operateur, wat nie in die verslag geïdentifiseer is nie, het “aanpassings met die hand” aan die FreeFall-valtoringrit by ICON Park in Orlando gemaak, “wat daartoe gelei het dat dit onveilig is”. Volgens die verslag kan die oorsaak van die ongeluk nie aan ’n meganiese of elektriese fout toegeskryf word nie.

Die verslag deur Quest Engineering & Failure Analysis, Inc., lui dat manipulasies met die hande aan die sitplek waarin Sampson gesit het, gemaak is om die harnas-beperkingsopening groter te maak, blykbaar om die tiener – wat sowat 154 kg weeg – te akkommodeer.

Nicole Fried, die kommissaris van landbou en verbruikersdienste in Florida, sê die harnas-beperkingsopening was “amper dubbel dié van die normale beperkingsopening”.

Die verslag toon dat die gemiddelde opening vir ander sitplekke op die rit sowat 8,45 cm was, wat as normaal beskou word. Sampson se sitplek is verstel sodat die opening sowat 18,26 cm groot was, het die verslag bevind.

Volgens Fried het die FreeFall se sensorligte na afloop van die aanpassing aangegaan – wat basies die spreekwoordelike “groenlig” is vir die rit om voort te gaan. Dit ten spyte daarvan dat Sampson nie behoorlik in sy sitplek vasgemaak was nie.

“Luidens die verslag het Sampson met die rit se afkomslag deur die gaping tussen die sitplek en die harnas gegly en na sy dood geval,” het Fried bevestig.

Fried sê die ondersoek sal nou na die volgende fase oorgaan – waartydens vrae soos “hoe” en “hoekom” dit plaasgevind het, beantwoord moet word. “Daar gaan ook gekyk word na moontlike gevolge vir die betrokkenes, tesame met enige veranderinge van reëls en regulasies wat nodig is om toekomstige tragedies te voorkom.”

ICON Park het Maandag in ’n verklaring aan ABC News gesê hy is “hewig ontsteld” oor die bevindings van die verslag.

“ICON Park is daartoe verbind om ’n veilige, prettige ervaring vir gesinne te bied. Ons sal voortgaan om Florida se departement van landbou en verbruikersdienste te ondersteun met hul deurlopende ondersoek,” sê die park in die verklaring.

Die FreeFall-rit sal vir ’n onbepaalde tyd gesluit bly.

Dié pretrit – wat in Desember geopen het – neem besoekers tot op ʼn hoogte van 131 m en kantel vir ʼn oomblik of twee voordat dit teen ʼn spoed van ongeveer 121 km/h na benede sak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Deon ·

Die “masjien” se sensors het gewys, die aksie wat geneem was, is reg, is dit n menslike fout of n faling van die masjien se ontwerp?

piet ·

Korrek, lyk nie of die situasie gemanipuleer was nie, die sitplek kon verstel word tot daai grootte.

piet ·

Maar as die sitplek verstel kan word dan moet die vervaardiger mos steeds verseker dat dit steeds veilig is vir gebruik met die aanpassing.

Frank ·

Die knaap is weggewys by ander parke juis oor sy gewig voor dit maar WOU op pretrit ry.

Samuel ·

Dit bly ‘n uiters tragiese verhaal. Ek voel steeds jammer vir sy naasbestaandes.

piet ·

Van daai manne is groot. Moet se op daai foto lyk hy nie na iemand wat 154kg weeg nie maar hy is seker lank ook gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.