Menslike oorskot gevind in soektog na Petito se kêrel

Die area waar die menslike oorskot en ander items gevind is. (Foto: MARK TAYLOR/Getty Images via AFP)

Menslike oorskot is Woensdag in ʼn natuurreservaat in Florida gevind waar die owerhede na die vermiste kêrel van die vermoorde Gabby Petito gesoek het.

Michael McPherson, ʼn agent van die FBI, het gesê van Brian Laundrie se persoonlike items is ook in die Carlton-reservaat gevind.

ʼn Soektog is na Laundrie van stapel gestuur nadat hy en Petito ʼn landwye toer onderneem het en Petito onder raaiselagtige omstandighede verdwyn het. Petito (22) se oorskot is middel September in ʼn nasionale woud in die deelstaat Wyoming gevind. Sy is verwurg.

Volgens McPherson is daar onder meer ʼn rugsak en ʼn notaboek wat aan Laundrie (23) behoort, gevind. “Die items is in ʼn gebied gevind wat tot onlangs nog onder water was.”

Petito en Laundrie het in Julie vanjaar met ʼn reis deur Amerika begin. Hulle het deurgaans foto’s en video’s van idilliese landskappe op sosiale media gedeel.

Petito se familie het egter in September onraad vermoed toe Laundrie alleen met die paartjie se kampeerwa terug huis toe is.

Laundrie het met sy tuiskoms in North Port, Florida, geweier om inligting aan die polisie te verskaf oor die twee se doen en late waarna hy verdwyn het en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

Polisiebeamptes van Utah het in Augustus op ʼn voorval van gesinsgeweld gereageer waarby Petito en Laundrie betrokke was. Beeldmateriaal wat deur die betrokke beamptes geneem is, wys hoe Petito sê dat sy in ʼn onderonsie met Laundrie betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maggies ·

Wat jy saai sal jy maai. Hy het alleen gaan wegkruip in ‘n baie gevaarlike plek om die gereg te ontduik. Hierdeur het hy net nóg onbeantwoorde vrae agter gelaat.

Charmain ·

Sy ouers weier vir weke om enige samewerking te gee en die dag wat hulle wel besluit om te help soek word sy persoonlike items gekry….werklik???

Niklaas ·

Ek het heeltyd vermoed dat hy nie lewend gevind sal word. Sy ouers het ook nie juis vreeslik hard gewerk aan die verskaffing van inligting oor sy doen en late nie. Nou is dit te laat. Wat net vreemd is , is die FBI en polisie vervolgings owerhede het besef hy is die enigste verdagte en tog word hy nie gearresteer en aangehou vir antwoorde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.