Merkel se party in die moeilikheid

Die Duitse kansellier Angela Merkel (Foto: Markus Schreiber / POOL / AFP)

Dit lyk of daar rede tot kommer vir die Duitse kansellier Angela Merkel en haar konserwatiewe party is nadat dié party swaar verliese in twee streeksverkiesings gely het. Dit skaars ses maande voor die algemene verkiesing op 26 September plaasvind.

Volgens skattings deur openbare uitsaaiers het die regerende Christen-Demokratiese Unie (CDU) Sondag sy swakste uitslae nóg in streeksverkiesings in die suidwestelike deelstate Baden-Württemberg en Rynland-Palts behaal.

Dié uitslae het vrae laat ontstaan ​​oor die konserwatiewes se kanse tydens die algemene verkiesing in September vanjaar, wanneer Duitsers ’n opvolger vir die uittredende Merkel sal moet kies.

“Dit kan nie so aangaan nie,” het die Duitse nuustydskrif Der Spiegel  berig. Die publikasie berig Merkel se huis is “aan die brand”.

Die CDU se swak uitslae kan moontlik toegeskryf word aan openbare ontevredenheid weens die party se trae implementering van sy entstofplan, ’n vertraagde begin met massatoetsing en toenemende Covid-19-gevalle ondanks maande se afsondering.

Merkel se CDU en sy Beierse susterparty, die Christen-Sosiale Unie (CSU), het boonop onlangs onder skoot gekom oor bewerings dat wetgewers blykbaar voordeel getrek het uit die aankoop van gesigmaskers tydens die vroeë dae van die Covid-19-pandemie.

Drie konserwatiewe parlementslede het intussen bedank. Die CDU-CSU-alliansie dwing nou al sy wetgewers om enige finansiële wins uit die koronavirus-krisis te verklaar.

Markus Blume, sekretaris-generaal van die CSU, sê Sondag se uitslae is ’n “wekroep” vir die CDU en die CSU.

Blume sê indien Duitsland se grootste blok aan die bewind wil bly nadat Merkel na 16 jaar uittree, moet “vertroue dringend teruggewen” word. “Ons het duidelike besluite nodig en ’n duidelike koers in die stryd teen die koronavirus.”

Der Spiegel meen die blok behoort eerstens ’n kandidaat vir kansellier te benoem.

Armin Laschet, die nuwe hoof van die CDU, is seker die mees voor die hand liggende keuse. Laschet het egter meer steun nodig.

Laschet moet “hom van Merkel se skaduwee bevry” en “sê waarvoor die party staan”, meen Andreas Roedder, ’n historikus aan die Mainz-universiteit en ’n lid van die CDU.

Meningspeilings dui daarop dat Duitsers die gewilde Beierse premier en CSU-leier Markus Söder verkies. Söder het egter nog nie aangedui of hy bereid sal wees om as kandidaat vir dié pos te staan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Baardman ·

Wens ons publiek kan by Duitsers leer. As hulle kabinet nie presteer, gaan dit reflekteer op hulle verkiesingsuitslag. Hier in SA hou die mense aan stem vir die ANC, en n groot hoeveelheid mense stem glad nie.

Hennie J ·

Onthou net dat hulle kiesers geletterd is en nie aan intimidasie onderworpe is nie

Leeuwyfie ·

Hoekom noem hulle dit Christelike partye, wanneer nie een Christelik is nie?
Mens kan mos nie ‘n demokratiese verkiesing hou as een van die gunstelinge verban word om te staan nie. Die Afd het baie kiesers gewerf en is as ‘n haat party uitgeskop oor hulle die instroming van immigrante wil stopsit. Hoe is dit ‘n demokrasie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.