Merkwaardige reuse-koraalrif naby Tahiti gevind

(Foto: Alexis Rosenfeld/Unesco)

Wetenskaplikes het yslike groot ongerepte roosvormige korale in diep water aan die kus van Tahiti gevind wat oënskynlik nie deur klimaatsverandering geraak is nie, het Unesco Donderdag aangekondig.

Die koraalrif is sowat 3 km lank en tot 65 meter breed en Unesco het dit beskryf as “een van die mees gesonde koraalriwwe op rekord”.

Die Verenigde Nasies se erfenisagentskap het gesê dit is “hoogs ongewoon” om gesonde korale in koeler water tussen 30 m en 65 m diep te vind en dit is ʼn teken dat daar moontlik nog riwwe in die diep oseaan is wat teen die impak van warmer water beskerm word.

Die ontdekking is in November gemaak deur duikers met spesiale toerusting wat hulle in staat gestel het om dieper te duik en hulle kon sowat 200 uur op die rif spandeer.

“Dit was magies om reusagtige, pragtige rooskorale te aanskou – so ver as wat die oog kan sien. Dit is ʼn kunswerk,” sê Alexis Rosenfeld, ʼn Franse fotograaf en stigter van die Unesco-vennootskap 1 oseane-veldtog.

Die roosvormige korale is elkeen tot 2 meter breed.

“Tot dusver weet ons meer van die oppervlak van die maan as die diep oseaan,” sê Unesco-direkteur-generaal Audrey Azoulay en voeg by dat slegs sowat 20% van die wêreld se seebodem al gekarteer is.

ʼn Inspirasie

(Foto: Alexis Rosenfeld/Unesco)

“Die ontdekking van dié rif in só ʼn ongerepte toestand is goeie nuus en dit kan toekomstige bewaring inspireer,” sê Laetitia Hedouin, ʼn mariene bioloog by die Franse navorsingsagentskap (CNRS). “Ons vermoed dieper riwwe word beter beskerm teen aardverwarming.”

Meeste van die wêreld se bekende riwwe word op dieptes van tot 25 meter aangetref en die VN se erfenisagentskap sê die Tahiti-rif is moontlik ʼn teken dat daar nog meer gebiede is met gesonde korale in die oseaan se ongekarteerde “twilight zone”.

“Hierdie merkwaardige ontdekking in Tahiti is ʼn teken van die ongelooflike werk wat wetenskaplikes, met die ondersteuning van Unesco, doen om ons kennis oor dit wat onder die see lê, uit te brei,” het Azoulay bygevoeg.

Frans-Polinesië het in 2019 noemenswaardige verbleiking beleef, maar dié nuwe rif is skynbaar nie daardeur geraak nie. “Die korale toon geen teken van siekte of stres nie,” het Hedouin aan AFP gesê.

Verbleiking vind plaas wanneer gesonde korale onder druk geplaas word deur ʼn skielike styging in oseaantemperature. Hulle verdryf alge wat in hul weefsel groei en laat verbleikte geraamtes agter waar ekostelsels eens floreer het. Stervisse plunder ook korale wanneer hulle daaraan vreet.

Temperatuur-sensors is in die gebied geplaas as deel van ʼn program om te bepaal waarom die koraalrif skynbaar nie deur klimaatsverandering geraak word nie en om die bevolkingsdinamika te monitor.

Koraalriwwe bedek slegs ʼn breukdeel van die bodem van die oseaan, maar huisves minstens ʼn kwart van alle mariene diere en plante.

(Foto: Alexis Rosenfeld/Unesco)

Die Wêreldwye Koraalrifmoniteringsnetwerk het in Oktober gesê dinamiet-visvang, besoedeling en hoofsaaklik aardverwarming het tussen 2009 en 2018 sowat 14% van die wêreld se koraalriwwe uitgewis. Korale in Suid-Asië en die Stille Oseaan, die Arabiese Skiereiland en die kus van Australië is die ergste hierdeur getref.

Oseane absorbeer meer as 90% van die oortollige hitte van kweekhuisgasuitlatings en beskerm landsoppervlaktes. Dit genereer egter groot, langdurige mariene hittegolwe wat talle spesies van korale tot verby hul vlak van toleransie druk. ʼn Enkele verbleikingsvoorval in 1998 wat deur warmer water veroorsaak is, het sowat 8% van alle korale uitgewis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Diets ·

Jip, en nou het die ‘mens’ dit ontdek. Begin van die einde…

Marius ·

Is daar rerig aard verwarming of is dit wat nou gebeur maar net deel van ‘n ewigdurende siklus ?

Se maar net ·

Ja en nou gaan duikers en die mense toesak op Tahiti en dit ook vernietig. Kon hulle maar nie net gese het iewers naby die Cook Islands of iets nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.