MERS-uitbreking eis lewens op Arabiese Skiereiland

Hospitaal JeddaSaoedi-Arabië het sy minister van gesondheid vervang na nog gevalle van die MERS-besmetting voorgekom het.

In dié land het reeds 244 gevalle voorgekom na die siekte die eerste keer in 2012 geïdentifiseer is. Van dié persone het 79 gesterf. Die jongste toename hou blykbaar verband met die aanbreek van die noordelike halfrond se somer.

MERS is die afkorting vir Middle East Respiratory Syndrome, ‘n siekte wat die mens blykbaar by die kameel oorgeneem het, en wat die lewe van sowat ‘n derde van sy slagoffers eis. Omdat die siekte moeilik tussen mense oorgedra word, word dit nog nie as ‘n internasionale krisis beskou nie, hoewel navorsers maan ‘n mutasie kan maklik voorkom wat dit wel makliker van mens tot mens oordraagbaar kan maak.

Die jongste toename het juis kommer laat ontstaan dat die siekte nou so ontwikkel het dat dit “gereed” is om wêreldwyd te versprei. Die meeste van die jongste sowat 50 slagoffers was gesondheidsdienswerkers wat aandui dat hulle waarskynlik die siekte by pasiënte opgedoen het. Dr. Michael Osterholm van die Universiteit van Minnesota se Navorsingsentrum vir Oordraagbare siektes  dit is duidelik dat iets aan die gebeur is.

Verskeie navorsers werk hard daaraan om ‘n teenmiddel te vind.

‘n Jaar gelede het ‘n groep Suid-Afrikaanse en Duitse navorsers aangekondig  dat hulle heel moontlik die voorloper-virus van dit wat van die kamele na mense oorgedra is, by ‘n vlermuissoort gevind het wat in Suider-Afrika voorkom.

Kommer bestaan veral omdat van die gevalle wat nou aangemeld is, in Medina voorgekom het. Vanjaar vind die Hajj in die begin van Oktober plaas wanneer miljoene Moslem-pelgrims waarskynlik deur Medina na Mekka sal stroom.

Maroela het meer oor die siekte te wete gekom nadat bekommerde Suid-Afrikaners in die Golfstate, waar die siekte ook reeds kop uitgesteek het, wou weet of daar ‘n gevaar bestaan dat dit na Suid-Afrika kan uitbrei.

Omdat dit moeilik van mens tot mens oorgedra word, word dit nog nie as ‘n groot risiko beskou nie.

Bronne: Health 24, Yahoo News, CBC News,  NPR

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.