Mesaanval in Sydney-kerk was daad van ‘terreur’

Polisielint buite die kerk in Sydney waar die aanval plaasgevind het. (Foto: David Gray/AFP)

Australiese polisie sê die mesaanval tydens ʼn regstreekse kerkdiens was ʼn daad van “terreur” wat deur geloofsredes gedryf is, terwyl die owerhede terselfdertyd ʼn oproep op die woedende gemeenskap gedoen het om kalm te bly.

Twee mense is beseer toe ʼn 16-jarige verdagte laat Maandag die Assiriese Christen-kerk in die weste van Sydney binnegestorm het en ʼn biskop wat besig was met ʼn preek, met die mes getakel het.

Die biskop is in die kop en bors gesteek en na ʼn hospitaal geneem.

Woedende kerkgangers het die aanvaller in bedwang gebring en later aan die polisie oorgegee.

Hy is “bekend aan die polisie”, maar was op geen terreurlyste nie, het senior beamptes gesê.

“Ná oorweging van die materiaal het ek verklaar dat dit ʼn terreurvoorval was,” het Karen Webb, polisiekommissaris van Nieu-Suid-Wallis, gesê.

Webb sê die aanval word beskou as ʼn daad van geloofsgedrewe “ekstremisme” wat mense geïntimideer het. Sy sê ook die slagoffers is “gelukkig om te leef”.

Die hoof van Australië se voorste spioenasieagentskap het gesê dit lyk of die verdagte alleen opgetree het en dat daar geen dadelike behoefte is om die land se terreurvlak te verhoog nie.

“In hierdie stadium lyk dit soos die optrede van ʼn individu,” het Mike Burgess, hoof van die Australiese Veiligheidsintelligensieorganisasie, in ʼn rare openbare opmerking gesê.

Die ander mense word vir beserings weens die aanval behandel en nog nagenoeg 30 is behandel ná ʼn oproer buite die kerk ontstaan het.

Meer as 500 betogers het sowat drie uur lank teen die onlustepolisie baklei wat gespook het om hulle te verhoed om die kerk weer binne te gaan en self met die tiener af te reken.

Hy word nou op ʼn ongenoemde plek aangehou en het glo ook meswonde opgedoen. Die owerhede het aanvanklik gesê hy is 15 jaar oud.

ʼn AFP-verslaggewer het Maandag gesien hoe voorwerpe geslinger word terwyl die onlustepolisie met skilde en koeëlvaste baadjies uiteindelik die betogers weg van die kerk kon stoot.

Sowat 20 polisievoertuie en verskeie huise is beskadig terwyl betogers bottels, bakstene en ander items gegooi het.

Een beampte is deur ʼn metaalvoorwerp getref en het ʼn kniebesering opgedoen, terwyl sy tand ook gebreek is, het die polisie gesê.

Nog ʼn konstabel se kakebeen is gebreek toe ʼn baksteen hom getref het.

Orde is eindelik herstel, maar meer beamptes is in die buurt ontplooi om plaaslike geloofsgeboue te beveilig.

Die kerk het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die slagoffer, biskop Mar Mari Emmanuel, is in ʼn bestendige toestand en “sterk aan”.

Oproep om kalmte

Onlustepolisie moes spook om ‘n woedende skare, wat die kerk wou binnestorm, in bedwang te bring. (Foto: David Gray/AFP)

AFP het die video van Maandag se aanval bevestig as die een wat by die Christ the Good Shepherd-kerk geneem is. Die kerk het sowat 200 000 aanlyn volgelinge.

Dit is geleë in Wakeley, in die weste van Sydney. Die gebied is ʼn sentrum vir Sydney se klein Assiriese Christen-gemeenskap van wie talle van vervolging en oorlog in Irak en Sirië gevlug het.

Chris Minns, premier van Nieu-Suid-Wallis, het in ʼn gesamentlike verklaring met Christen- en Moslem-leiers gepleit vir kalmte.

“Ons doen ʼn beroep op almal om met welwillendheid en respek vir mekaar op te tree,” het die verklaring gelui.

“Nou is die tyd om te wys dat ons sterk en verenig is.”

Die aanval volg slegs twee dae nadat ʼn 40-jarige man met ʼn mes ses mense by ʼn winkelsentrum in die ooste van die stad doodgemaak het. ʼn Polisiebeampte het hom doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

trotsNAMSA ·

SA’ners wat oorsee vlug weens misdaad, wel orals is misdaad en terreur. Ek glo die oorsese SA’ners sluit hul huis deure en kyk nogsteeds oor hulle skouers.

Michael ·

En dit is nou mense wat kerk bywoon,wat bottels gooi en huise beskadig?

piet ·

Hierdie gaan al meer gebeur in Australie weens Aus se politieke standpunte.

Johan ·

Nee Australie hierdie is geen terreur aanval nie, onthou julle eerste minister het openlik verklaar dat die Oktober 7 aanval in Israel nie n terreur aanval was nie, so julle kan nie hierdie nou n terreur aanval wil noem nie

Katinka ·

Ek.lu ster na die priester wat kerk dienste lewer, hy praat baie goed, dis ‘n jammerte!

JN ·

Haha trotsnama jy leef in n sprokies wereld..
Daar is min in Australia wat jy met Suid Afrika kan vergelyk..
Vat maar die daaglikse moord getal van Suid Afrika…wat is dit nou al? 75 n dag die algemene standaard??? Miskien 200 tot 300 moorde n jaar in Australia in n slegte jaar .
Suid Afrika vat daai syfers verby in n week my ou..
Jul mense daar weet wat dit is om normaal te leef nie en dit is hartseer want dit is wat die vrot onbevoegde kanker gewas van n Anc aan Suid Afrika gedoen het.

Charles ·

Die insident maak opslae omdat dit die uitsondering is en nie die norm nie, soos JN meld is Australia steeds n beter plek as ons “war zone”.
En hopelik word beter immigrasie skandering in plek gesit om sulke voorvalle te beperk.
Selfs die “pitbulls” loop deesdae twee, twee rond, dit is te gevaarlik alleen.

JD ·

@Katinka.
Ek luister ook graag na hom.
Was geskok toe ek sien dis hy wat aangeval is.

George ·

@JN, moet jouself nie bluf nie, vir ons ander was SA so al van die 70s af, waar die polisie ons ook aangeval het. SA is bitter onveilig, maar om alle blaam op een party te sit sonder om bietjie responsibility te neem is ook belaglik.

Olive ·

Ja George as jy droogmaak, moet die polisie jou aanvat. Nou gebeur dit nog, maar julle kom weg daarmee. In die 70s het die polisie nog hulle werk gedoen. Met trots. Volgens al jou algemene kommentaar kom dit voor dat jy vreeslik bejammer wil word. Australia is great, net sekeres wat dit in ‘n onveilige land omskep. Soos oral in die wereld.

melaney ·

My kinders al 8 jaar in Australia. Daar gebeur hier en daar dinge (bv petty theft), maar hulle is so gewoond om oor hulle skouer te kyk (in SA) dat hulle dit nou nog doen in AUS. In die islamiese geloof word kinders so jonk soos 10 jaar oud gekondisioneer om te glo dat hulle alle jode en christene moet uitwis. Soos hulle sê “signs of the times”.

Amelia ·

Ek hou baie van biskop Mar Mari Emmanuel. Daar is ‘n rede vir sy groot gewildheid aanlyn en dit is omdat hy oop, eerbaar en vredeliewend is maar ook nie skroom om die waarheid te praat nie. Dit is natuurlik hoekom hy geteiken is. Daai outjie soek berugtheid vir homself – ek hoop hy sit lekker in die tronk terwyl hy elke dag saamleef met die wete dat hy gefaal het.

Bolandse Nooi ·

@JN … jy is ‘n paar daaglikse moord-getalle in SA agter. Ons trek nou al by 81 moorde per dag.

Desnieteenstaande-het-overgesynde, soos Oom Oubaas in 7de Laan gesê het: dís wat gebeur as ‘n land sy deure vir ieder-en-elk oopgooi … jy kry te doen met die misdadige en allerheilige element wat uit ander lande oorstroom en hul denkwyses op almal wil afdwing of vanweë omstandighede nie werk kan kry nie en hulself dan tot misdaad wend.

Marita ·

Het ook al na van sy preke geluister. Hy is op die man af en praat suiwer waarheid uit die Woord. Baie dringend nodig in ons land ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.