Mesaanvaller teiken Chinese kleuterskool

Argieffoto bloot ter illustrasie van ‘n kleuterskool in China. (Foto: GERARD JULIEN / AFP)

Drie mense is dood en ses ander gewond tydens ’n mesaanval Woensdagoggend by ’n kleuterskool in China.

Die slagoffers se ouderdom is nie in dié stadium aan die media bekend nie.

Luidens inligting het ’n verdagte, geklee in onder meer ’n pet en masker, vanoggend omstreeks 10:00 plaaslike tyd op die private kleuterskool in die Anfu-distrik van die Jiangxi-provinsie toegeslaan.

“Die 48-jarige verdagte is steeds op vrye voet,” het die polisie ná die aanval in ’n verklaring op Weibo, ’n platform in China soortgelyk aan Twitter, gesê.

Die staatsbeheerde Beijing Daily het intussen ’n video gedeel waarin daar gesien kan word hoe ’n polisiebeampte ’n jong kind in sy arms na ’n ambulans dra.

Massa-aanvalle is skaars in China – ’n land wat sy burgers streng verbied om vuurwapens te besit. Maar massa-aanvalle met ’n mes het die afgelope jare begin kop uitsteek. Dít sluit in aanvalle waartydens kleuters en skoolkinders spesifiek geteiken is.

Twee kinders is dood en 16 ander gewond toe ’n gewapende man verlede April ’n kleuterskool in die suide van China binnegegaan het.

’n Mesaanvaller het ook in 2020 altesame 37 studente en twee volwassenes by ’n laerskool in die suide van China gewond.

’n Man is later daardie jaar ter dood veroordeel omdat hy tientalle kinders vergiftig het in ’n poging om wraak teen ’n kollega te neem. Die voorval het die lewe van een kleuter geëis.

Wat ander meer onlangse aanvalle betref, is vier mense verlede maand tydens ’n mesaanval by ’n groot Sjanghai-hospitaal gewond. Polisiebeamptes het die vermeende aanvaller geskiet en daarna in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Ek verstaan nie – wat gaan deur n 48jarige mens se kop om n kleuterskool aan te val???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.